Deurbraak ná vlaag kapings op Delmas

Een van die vragmotors wat op Delmas gekaap is. (Foto: SA Polisie)

Twee verdagtes is agter tralies ná verskeie kapingsvoorvalle in Delmas, Mpumalanga, die afgelope ruk.

In een van die voorvalle is ʼn vragmotorbestuurder Donderdag omstreeks 19:45 voorgekeer kort nadat hy ʼn vrag soja by Ceoco op Delmas opgelaai het.

“Terwyl hy uitgery het, het verskeie voertuie die pad versper. Drie gewapende mans het hom genader, agterin die vragmotor gedwing en sy kop bedek,” sê brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder.

Die kapers het glo ʼn ruk lank met die slagoffer rondgery, hom in ʼn wit minibussie ingedwing en toe by ʼn huis aangehou. Iemand anders het intussen die polisie oor die kapingsvoorval ingelig en die polisie het die vragmotor in Sarel Cillierstraat op die dorp opgespoor.

ʼn Verdagte is aangekeer terwyl hy van die vragmotor weggestap het. Sy makkers is nog soek.

ʼn Dag later is die bestuurder van nog ʼn vragmotor met soja omstreeks 17:00 deur twee verdagtes in ʼn wit Volkswagen Golf 7 by die Botleng Mall op Delmas voorgekeer. Ook dié slagoffer is tot agterin die vragmotor gedwing en sy kop met ʼn oorpak toegegooi waarna die rowers ook ʼn ruk lank met hom rondgery het.

Hy is later in ʼn veld afgelaai.

Die vragmotor en twee sleepwaens is gevind, maar daar was geen spoor van die vrag soja nie. Dit is sowat R260 000 werd, sê Mohlala.

Dieselfde dag is nog ʼn vermeende kaper aangekeer nadat ʼn Toyota-dubbelkajuitbakkie vroeër in Vosman gekaap is.

Lede van die Middelburg-hoofwegpatrollie het die voertuig kort ná 23:00 op die N12 – tussen die R42 en die R50 – op pad na Johannesburg opgemerk. Hulle het versterkings van die Delmas-polisie ingeroep en die verdagte is in die gekaapte bakkie in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ʼn warsender.

Ook Vrydag het ʼn opsporingsmaatskappy die Delmas-polisie se hulp ingeroep nadat ʼn wit BMW vroeër in Clayville in Johannesburg gesteel is.

Die polisie en beamptes van die opsporingsmaatskappy het die R50 gefynkam waar die opsporingsein die laaste keer nagespoor is. Die BMW is verlate langs die pad aangetref en daar was geen spoor van die verdagtes nie.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiehoof, het die polisie vir die inhegtenisnemings en opsporing van die voertuie geloof.

Die twee verdagtes verskyn na verwagting binnekort in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.