Dié jong dames is pure goud

HTS Drostdy se trots in Nederland in aksie. Foto: Verskaf.

As jou motor ooit in die omgewing van Worcester in die modder vassit, los die insleepdiens en bel eerder vir HTS Drostdy; die skool se meisies-toutrekspan sal jou in ʼn japtrap uit jou verknorsing kan red.

Want ná Kris van den Berg, Mieke Beukes, Ellenore Spamer, Chanel van der Walt, Jeanine Rossouw, Dominique Sheperd, Mariné Perold en Ananda le Roux se heldedade by die Wêreldkampioenskap in Nederland, spog die skool met een van die heel beste toutrekspanne ter wêreld.

Die meisies het onder die vaandel van HTS Drostdy met die silwermedalje in die ope kategorie (480 kg) in Holten gespog, terwyl hulle as die Suid-Afrikaanse o. 19-meisiespan goud ingeoes het.

Foto: Verskaf.

“Ek is baie trots op die meisies want hulle moes ongelooflik hard hiervoor werk,” het afrigter Morné Visser vir Maroela Media gesê.

“Die ander spanne weier om handdoek in te gooi en in ons uitdunrondes kon ons nie al die trekke wen nie. Maar nader aan die halfeindstryd het ons kliphard vir daardie goue medalje begin baklei.”

Volgens Visser was die pad na sukses op die internasionale verhoog glad nie ʼn maklike een nie – dit verg baie oefening, spanwerk en dissipline.

Ter plaatse moet ʼn span die Junior Suid-Afrikaanse Kampioenskap wen om as die nasionale span bekend te staan en dié eer het HTS Drostdy vanjaar in Maart te beurt geval.

Moet egter ook nie dink dat daar toe baie tyd vir feesvier was nie; aikôna, die klipharde oefensessies het daarna éérs begin momentum kry.

Die span oefen twee uur op ʼn slag vir vier dae per week by die skool, terwyl daar op Saterdae aan kompetisies deelgeneem word.

Foto: Verskaf.

“As ʼn sport verg toutrek stamina en krag – ʼn atleet moet dus fiks en sterk wees. ʼn Lang asem help jou om vas te byt, terwyl spiere ook in jou guns tel. Benewens hul touwerk-oefening moet atlete ook hul eie kragoefeninge doen en gereeld gaan draf.”

Visser wil die sport verder in Suid-Afrika uitbrei, maar erken dat finansies en gebrekkige belangstelling van die grootste struikelbokke is.

“Die toutrekkers moet vir hulself betaal en dit kan in ʼn duur storie ontaard; veral as daar oorsee gereis moet word.”

Tog het HTS Drostdy se meisies gewys dat hulle dubbel en dwars hul gewig in goud werd is.

  • Die Suid-Afrikaanse spanne het altesaam 11 medaljes by die Wêreldkampioenskap ingepalm, terwyl die o. 19-seuns van Hoër Landbouskool Oakdale ook amok gemaak het toe hulle die goue medalje ingeoes het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Watsenaam ·

OO, heng, hulle is in die moeilikheid. Waar is die “affirmative ” brigade? Julle “whities maak nie mooi nie,”Maar nogmaals baie geluk. “Die toutrekkers moet vir hulself betaal en dit kan in ʼn duur storie ontaard; veral as daar oorsee gereis moet word.” VIVA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.