‘Landboudepartement mors geld’

(Foto: Du Preez de Villiers)

Woorde begin opdroog om die wanbestuur waarmee Suid-Afrika daagliks gebombardeer word te beskryf, meen TLU SA.

Die wanaanwending van fondse in die landboudepartement wat deur die portefeuljekomitee in hul begrotingshersienings- en aanbevelingsverslag blootgelê is, moet nog deur die nasionale vergadering oorweeg word.

Die verslag wys daarop dat verkwiste uitgawes van R33 000 in die 2021/22- finansiële jaar drasties gestyg het tot R30 miljoen in 2022/23. Die meeste daarvan as gevolg van betaling vir dienste wat nie gelewer is nie. Diefstal en korrupsie vier steeds hoogty.

“Dit word ʼn norm en dit wil voorkom of mense met tyd daaraan gewoond raak. Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” sê Erika Helm, voorsitter van TLU SA se plaaslikeregeringkomitee. “Die belastingbetaler kan nie langer ʼn regering ondersteun wat geen verantwoordelikheid vir die bestuur van fondse aan die dag lê nie. Dit terwyl daar mense is wat nie kos het om te eet nie.”

Helm sê die hoofdoelwitte van die landboudepartement is om ʼn omgewing te help skep en ondersteun waarbinne suksesvolle boere winsgewend kan boer om sodoende voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker. TLU SA is bekommerd dat dié doelwitte nie in die belang van alle landbouers is nie, en dat dit net as ʼn front dien vir meer diefstal en korrupsie.

“Om te bepaal wie is skuldig behoort ‘n eenvoudige oefening te wees en daar moet kriminele klagtes teen hulle gelê word. Die straf vir hierdie tipe gedrag is egter lig, want daar is geen strafmaatreëls om oortreders van dié tipe gedrag te weerhou nie.”

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê die departement van landbou staan nou voor ‘n integriteitstoets. “Die politieke hoof van die departement behoort verantwoordelik en aanspreeklik te wees vir haar departement se handelinge. Die vraag oor wat geword het van die oorsigrol gaan seker soos baie ander korrupsie en selfverrykingsake in die lug bly hang. Indien daar egter aangegaan word asof dié soort verslae die norm is waarvolgens ons land regeer word, is dit ‘n klap in elke belastingbetaler se gesig. Die prys van die huidige beleidsrigting het inderdaad vir Suid-Afrika te duur geword.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

…hulle moet ook ‘n beurt by die trog kry; hoe anders moet hulle ryk word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.