Dié paasbolletjies is bobaas

Paasbolletjies van verskeie kleinhandelaars (Foto: Elisma van der Watt)

Paasnaweek is op hande en daar is min dinge so lekker as om weg te lê aan ʼn lekker warm paasbolletjie, sommer dik gesmeer met botter – en ʼn lekker koppie boeretroos of tee.

Boonop is daar paasbolletjies te kies en te keur. Maar watter bolletjie kraai koning onder die paasbolletjie-aanbod?

Maroela Media het ʼn handvol vrywilligers laat aantree om ʼn sogenaamde blinde proetoets van paasbolletjies van vyf van die grootste kleinhandelaars, naamlik Checkers, Spar, Food Lover’s Market, Pick n Pay en Woolworths, te doen.

Een handelaar se bolletjies het volgens ons span amateurbeoordelaars glad nie die mas opgekom nie, maar uit die res was dit ʼn taamlike moeilike besluit om die uiteindelike wenner aan te wys.

Food Lover’s Market kraai koning

Food Lover’s Market se bolletjies was die duidelike wenner (Foto: Elisma van der Watt)

Food Lover’s Market se bolletjies was die duidelike wenner. Dié bolletjies was met geur gepak, die smaak was perfek vir ʼn tradisionele paasbolletjie, die tekstuur was klam en die algehele indruk van die happie het die deelnemers oortuig.

Food Lover’s Market se paasbolletjies is boonop beskikbaar teen R19,99.

Kort op Food Lover’s Market se hakke was Checkers Hyper, met Woolworths en Pick n Pay se bolletjies wat volgens die span ook nie te versmaai was nie. Die tekstuur was lig en sag, maar dit is wel heelwat kleiner as die ander bolletjies.

Spar se bolletjies het nie juis opwinding veroorsaak nie. Volgens die span was die bolletjies droog en geurloos. Die kleinhandelaar se paasbolletjie was ook heelwat kleiner.

Woolworths se aanbod kom teen ʼn prys van R44,99; Spar en Pick n Pay sʼn is ʼn paar rand minder op R36,99 en Checkers Hyper verkoop ʼn halfdosyn teen R19,99.

Krispy Kreme het ook ʼn spesiale pastelkleurige Paasfees-reeks op die rak. Hierdie beperkte reeks is tot Maandag beskikbaar en is heerlik prettig.

Krispy Kreme se spesiale pastelkleurige Paasfees -reeks (Foto: Elisma van der Watt)

Maar is dit ʼn paasbolletjie?

Nooit as te nimmer nie, sê die span bolletjie-kenners. Maar die oliebolle is nietemin heel smaaklik en treffend – en dis darem baie mooi.

Tradisioneel word paasbolletjies op Goeie Vrydag geëet en merendeels in historiese Statebondlande soos die Verenigde Koningryk, Ierland, Australië, Indië, Nieu-Seeland, Kanada en dele van die VSA – en natuurlik hier in Suid-Afrika.

In Slowakye en die Tsjeggiese Republiek word ʼn soortgelyke soet broodjie met kruisie bo-op (mazanec) ook tradisioneel tydens Paasfees geniet.

Dié liggies gegeurde bolletjies met die bekende broodkruis op, het hul oorsprong so ver terug as die 12de eeu.

Daar word vermoed ʼn Anglikaanse monnik die bolletjies gebak het en dit met ʼn kruis gemerk het ter ere van Goeie Vrydag. Mettertyd het die smaaklike eetgoed wêreldwyd gewild geword en eindelik ook ʼn simbool van die Paastyd geword.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nicolaas Francois ·

Jammer…Food Lovers sê bolle proe net soos “bolle”…Woolies is dalk duurder maar by verre beter!Selfs Pick & Pay is baie better!

Zollie ·

Stem saam Nicolaas. Ek het al almal se bolle gekoop en Woolworths is die beste. Bly ook langer vars. Ander se bolle is môre hard.

Joan ·

Wel, dan het ek verlede jaaar s’n by Food Lovers gekoop. myne was maar bra droog. . .

Bolandse Nooi ·

Het julle al ooit Hot Cross Buns met kerrievis geëet? Dit ‘n gebruik hier in Worcester – dit was vir my iets allervreemds toe ek hier aangekom het, soet en sout bymekaar??? Tot ek dit probeer het … Jy vat ‘n Hot Cross Bun, sny dit deur, plak ‘n lekker dik stuk geelstert-kerrievis bo-op en eet dit so mors-mors met die laaaaaaaaaaang sous en al!

trotsNAMSA ·

Woolworths se broodjies is 100 persent, kry dit in vrugte (tradisioneel), sjokolad en ekstra warm.
My gunsteling is die een sonder vrugte. Dit kan in die vrieskas gehou word vir later en na dit ontvries is, is die broodjies so vars soos jy dit dié dag gekoop het.
Tradisioneel en dié sonder vrugte is heeljaar beskikbaar. Die broodjies is net die regte grootte vir nog een !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.