Die ‘Queens’ is in Kaapstad (en bring koninklike verkeersknope)

Die reuse-passasierskepe, die Queen Mary 2 en die Queen Victoria, sal binnekort by die Kaapstad-hawe vasmeer. (Foto: Facebook / JP Smith)

Die reuse-passasierskepe, die Queen Mary 2 en die Queen Victoria, sal binnekort by die Kaapstad-hawe vasmeer. Hoewel die aankoms van die skepe as ʼn groot hupstoot vir die Moederstad se toerismebedryf verwelkom word, skep die duisende mense wat oor die volgende paar dae aan boord moet gaan ook groot verkeerskopsere.

Die Queen Victoria het vanoggend om 07:00 in die hawe aangekom en vertrek na verwagting Vrydag om 17:30. Die Queen Mary 2 sal na verwagting Vrydag om 05:30 vasmeer en vertrek weer Saterdag om 18:00.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit by die Kaapstad-metro, waarsku dat die omgewing gaan wemel van bedrywighede. Hy het motoriste aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak om moontlike verkeersprobleme in die omgewing van die hawe te vermy.

Groot gesamentlike pogings word egter aangewend om moontlike opeenhopings op en rondom Nelson Mandela- en FW de Klerk-boulevard en Buitengrachtstraat te voorkom of te bestuur.

Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes rondom die Waterfront-gebied tydens spitstye te gebruik. Passasiers wat aan boord van die skepe moet gaan, moet spitstye in ag neem en liefs vroeër by die hawe wees.

Passasiers word aangeraai om die Christiaan Barnard- en Marinerylaan-ingang na die dokke te gebruik, en nie die algemene Waterfront-toegangsroetes nie omdat dit sal help om druk op ander paaie te verlig, sê Smith.

“Beamptes sal kringtelevisiekameras gebruik om die ligging en omvang van verkeersopeenhopings deur die loop van die dag vas te stel en betyds planne te aktiveer om die opeenhopings te bestuur.”

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê ingevolge hierdie plan van aksie sal verkeersvloei na en van die middestad gereguleer word.

“Beamptes sal voortdurend in kontak met verkeersdienste en operasionele personeel by die waterfront wees. Indien daar enige veranderlikes is, sal motoriste betyds oor die opeenhopings in kennis gestel word,” sê Quintas.

Kaapstad se verkeersowerhede werk ook nou saam met hawebeamptes om maatreëls in te stel om enige opeenhoping te verminder.

Ekonomiese inspuiting

Die aankoms van die skepe is ʼn reuse-ekonomiehupstoot vir Kaapstad.

Daar is groot begrip vir die druk wat dit op paaie in die omgewing plaas.

Smith sê egter mense moet in gedagte hou dat gebeurtenisse soos hierdie ʼn aanduiding van ekonomiese voorspoed is wat uiteindelik tot die verbetering van lewensgehalte vir inwoners lei.

“Kaapstad het tussen 2016 en 2019 as ʼn toerismebestemming vir passasierskepe gegroei en in hierdie tyd het tussen 35 en 40 skepe gemiddeld elke seisoen in die stad se hawe aangekom. In die 2023-’24-seisoen staan die getal besoeke op 67.

“Hierdie verbetering spruit regstreeks uit Kaapstad se ondersteuning vir die Cruise Cape Town-inisiatief, wat deur Wesgro geadministreer word, om ons as voorkeurbestemming vir passasierskepe te bevorder.”

Wesgro is die Wes-Kaap se amptelike agentskap vir die bevordering van toerisme, handel en belegging.

“Dit is ʼn sektor van toerisme wat vir ons baie waardevol is. Navorsing deur Wesgro het gewys dat toerisme tussen November 2022 en Mei verlede jaar sowat R1,2 miljard in die Wes-Kaapse ekonomie ingepomp het,” sê Smith.

Vir elke 30 passasiers wat op een van dié skepe in die stad aankom, word een voltydse werksgeleentheid boonop geskep.

“Hou dit in gedagte wanneer jy dink aan die duisende passasiers aan boord van die Queen Mary 2 en die Queen Victoria.”

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, sê die stad sal voortgaan om Kaapstad se plek op die lys van wêreldwye bestemmings te verseker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Mmmmmmm? So wat kos ‘n plekkie op een van die booitjies?

Ian ·

Maklik. Verander hulle na King en wallah die verkeer vloei mooi.

Marianna ·

Ek het die drie Queens in Liperpool gesien. Die Queen Elizaabeth, Queen Mary en Queen Victoria. Almal op een slag in die hawe. Ek het daarna gekyk van Wallasey af oorkant die Mersey Rivier. Dit was ‘n belewenis om die dames te sien.

Di ·

Deedae baie van die tipe skepe wat in Kaapstad aankom. Feb was die The World ook hier in Kaapstad se hawe. Lekker om so baie geld te he

piet ·

Die Amerikaanse oorlogskip Theodore Roosevelt was ook nogal ‘n belewenis om te sien in Kaapstad. Ek sien dis omtrent dieselfde lengte as die Queen Mary 2, massief.

Danie ·

Wil jy nou meer.Daar is verseker geen onreelmatighede met die besoek nie.

Bolandse Nooi ·

Ek kyk gereeld die BBC program “The World’s Most Luxurious …” wat soms oor uiters-luukse hotelle, huise en passassierskepe en dink dikwels by myself: “dis vir mense met te veel geld en te min verstand”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.