‘Die regering se krag is op, maar ons sʼn nie’

(Foto: GUILLEM SARTORIO / AFP)

Suid-Afrika gaan nooit weer een stabiele regeringsgesentraliseerde kragnetwerk hê nie, maar eerder ʼn gedesentraliseerde netwerk waarin verskillende openbare en private rolspelers voorsien aan die elektrisiteitsbehoeftes.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het tydens ʼn aanbieding vir die Vryemarkstigting lig gewerp op die omvang van die energiekrisis asook moontlike weë daaruit.

Status quo

Volgens Mulder is ons tans vasgevang in beurtkrag omdat die hoeveelheid krag wat Eskom oor die afgelope dekade uitgestuur het, drasties verminder het.

“Eskom stuur vandag minder krag uit as tien jaar gelede, terwyl ons nou ʼn groter ekonomie en groter bevolking het wat daardeur ondersteun moet word.”

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

Hierdie groeiende diskrepansie tussen die beskikbare elektrisiteit en die ware elektrisiteitsbehoeftes is volgens Mulder ʼn groterwordende krisis.

“Selfs met die slegste groeivooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie word die gaping tussen elektrisiteitsbehoeftes en dít wat Eskom kan lewer al groter.”

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

Eskom se enersydse onvermoë om aan elektrisiteitsbehoeftes te voldoen en andersydse markmonopolie kalwe volgens Mulder stelselmatig Suid-Afrikaanse burgers se welvaart weg deur die ekonomie lam te lê.

“Suid-Afrikaanse burgers is in reële terme vandag so arm soos tien jaar gelede. Dit beteken ons verminderde elektrisiteituitsette tesame met ʼn groeiende bevolking vreet burgers se potensiaal op om welvaart op ʼn wesenlike wyse op te bou,” meen Mulder.

ʼn Stagnerende ekonomie lei om die beurt weer tot ʼn uiters ongunstige arbeidsmark waarin byna die helfte van volwassenes wat kán werk, tans nie werk nie.

(Bron: Connie Mulder)

Waarheen is ons op pad?

In dié stadium lyk die vooruitsigte vir Eskom volgens Mulder ook nie juis watwonders nie.

“Eskom se sogenaamde energiebeskikbaarheidsfaktor was verlede jaar net-net bo 60%. Dit lyk asof dit vir 2023 sover naby aan 50% is. Die minimumstandaard vir dié faktor is eintlik 75%.”

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

Die energiebeskikbaarheidsfaktor is volgens Mulder ook nie iets wat in die voorsienbare toekoms verbeter gaan word nie.

“Eskom sit tans met die probleem dat hy teen 2035 22 GW se steenkoolkragstasies gaan moet begin aftakel (decommission). Weens swak langtermynbeplanning deur die minister van minerale hulpbronne en energie mag Eskom geen nuwe kragstasie gebou het om dié afgetakelde kapasiteit te vervang nie.”

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

Eskom beplan wel om bepaalde hernubare-energiebronne soos sonkrag en windkrag tot sy energieaanbod te voeg – iets wat volgens Mulder geensins die land se energiebehoeftes sal kan bevredig nie.

“Volgens sy eie beplanning, soos uiteengesit in die Integrated Resource Plan 2019 (IRP-2019), sal Eskom selfs in die beste moontlike scenario steeds ʼn opwekkingstekort van ten minste 6 GW ervaar.”

Indien alles wat volgens die IRP-2019 beplan word absoluut “perfek” uitgevoer word, sal Suid-Afrika se opwekkingsvermoë met net 43% verhoog terwyl die vraag met ʼn geskatte 40% verhoog. Hierdie scenario word onwaarskynlik gemaak deur die feit dat son- en windkrag energiebeskikbaarheidsfaktore van onderskeidelik 30% en 40% het.

“Indien daar in ag geneem word die son gaan nie 24 uur per dag skyn en die wind ook nie heeldag waai nie, gaan die ‘perfekte’ implementering van die IRP-2019 slegs 15% nuwe kapasiteit byvoeg. Selfs die regering se beste planne gaan nie ons probleme oplos nie.”

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

Hoe gaan ons hier uitkom?

“Ons gaan moet kyk na die wyse waarop Viëtnam uit ʼn soortgelyke kragkrisis gekom het.”

Volgens Mulder is Viëtnam in 2007 geteister deur tot 14 kragonderbrekings (rolling blackouts) per dag soos wat hulle staatsbeheerde kragmonopolie nie kon bybou met elektrisiteitsbehoeftes nie.

“Die verskil is Viëtnam het in hulle kragkrisis in gegroei – hulle bevolking en ekonomie het bloot te vinnig gegroei. Ons het stelselmatig in ons krisis in gekrimp.”

In 2011 het Viëtnam die kragmonopolie verbreek deur groothandelelektrisiteitskompetisie toe te laat. Nadat die mark geopen is, het die regering in 2017 toevoertariewe (feed in tarrifs) ingestel met bykomende tariewe in 2019.

(Bron: ‘Fixing South Africa’s Electricity Crisis’, Connie Mulder)

“Die gevolg hiervan was dat Viëtnam net in 2018 4 500 MW se elektrisiteit tot die netwerk gevoeg het. Die projek is in 2019 herhaal met nog groter sukses, in totaal is 101 029 sonpaneelprojekte op mense se dakke bygevoeg met geïnstalleerde kapasiteit van 9 296 MW in een jaar – waarvan 6 000 MW in een maand bygevoeg is.”

Viëtnam het volgens Mulder so goed daarin geslaag om sy elektrisiteitstekort op te los dat hy nou met ʼn oorskot elektrisiteit sit.

“Suid-Afrika kan net droom om so ʼn ‘probleem’ te hê.”

“Hierdie is vir ons goeie nuus, omdat Suid-Afrika een van die beste plekke in die wêreld om ons krisis met duisende sonpaneelprojekte op mense se dakke op te los.

(Bron: Global Solar Atlas)

“Suid-Afrika se sogenaamde global irradiation for optimally tilted surfaces (GTI Opta) is hoër as enige ander plek in die wêreld buiten die Sahara-woestyn. Dit beteken dat ons grondoppervlaktes en weerstoestande van so aard is dat ons per vierkante meter báie elektrisiteit uit die son kan opwek.”

StadGTI Opta
Pretoria2 249,9 kWh/m²
Nelspruit2 037,4 kWh/m²
Nama Khoi2 621,6 kWh/m²
Kaapstad2 142 kWh/m²
Ho-Chi-Minh (Viëtnam)1 824,7kWh/m²
Berlyn (Duitsland)1 261,1 kWh/m²
Edinburgh (Skotland)1 065,3 kWh/m²

“Viëtnam se bes presterende stad kom nie naby aan Suid-Afrika se gemiddelde GTI Opta nie. Selfs in Berlyn en Edinburgh, waar hulle groot aansporingsmaatreëls vir soortgelyke projekte het, is stede in Europa van alle plekke – iewers waar die son nie juis vreeslik getrou skyn nie.”

Die toekoms

Mulder deel die oplossing van ons elektrisiteitskrisis in drie stadia op.

In 2023 tot 2026 moet blote noodhulpopwekking geskied wat kleinskaal ingebedde opwekking behels. Daarna moet skaalbare privaatoplossings tussen 2026 en 2029 ontwikkel word met ingeboude winsaansporingsmaatreëls. Vanaf 2030 moet daar dan gefokus word op groothandelelektrisiteitskompetisie en die transmissienetwerk.

“Die belastingvoordeel wat die regering in die begrotingsrede aangekondig het, is ʼn goeie begin. Dit is egter nog nie genoeg nie en moet die energiereguleerder Nersa nou gedruk word om toevoertariewe aan te kondig.”

In hierdie stadium verskil die toevoertariewe tussen munisipaliteite wesenlik met sommige munisipaliteite wat nie eers beskikbare tariewe het nie. Hierdie is volgens Mulder ʼn noodsaaklike regulatoriese gaping wat gevul gaan moet word.

Die vooruitsigte van privaatopwekking lyk volgens Mulder goed.

“In die ganse 2022, gegewe Ramaphosa se aankondiging, is 1 600 MW se privaatopwekkingsprojekte geregistreer. Net sedert Januarie vanjaar is daar reeds méér as 1 000 MW geregistreer.”

Dit dui daarop dat die inisiatief en privaatsektorkapitaal gereed is om tot die mark toe te tree.

(Bron: Connie Mulder)

“Die opwekkingsvermoë gaan daar wees. Ons moet nou net die regulatoriese transmissiebottelnekke uit die weg ruim. Die privaatsektor is gereed om die probleem op te los, die regering moet nou net bykom óf opsystaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.