Dié ses huisvroue gaan die Wynlande op hol hê

Die ‘housewives’ gaan die wynlande op hol hê. (Foto: Verskaf)

Die ses vroue wat gaan deelneem aan die jongste plaaslike aflewering van Die Real Housewives-reeks is pas deur kykNET bekendgemaak.

Vanaf 20 April om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) maak Amy Kleinhans-Curd, Mariska Thorpe, Karen Schwendtke, Candice Bester, Michelle van Zyl en Anita Lloyd hul droomhuise se deure, hul harte en lewens vir kykers oop in Die Real Housewives van die Wynlande.

Dié jongste reeks volg kort op die uiters stylvolle hakke van Die Real Housewives van Pretoria – wat die eerste Afrikaanse weergawe was – en is in en om Franschhoek, Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes verfilm en deur Red Pepper Productions vervaardig.

Hier is ’n paar interessante feite oor die ses vroue van Die Real Housewives van die Wynlande om jou behoorlik nuuskierig te maak:

Amy Kleinhans-Curd

Amy Kleinhans-Curd. (Foto: Verskaf)

Die voormalige Mej. Suid-Afrika, Amy Kleinhans-Curd, is met die Nieu-Seelandse sakeman, Leighton Curd, getroud. Amy is ’n ma van vier, woon in Franschhoek en is die direkteur van verskeie maatskappye, waaronder die huiswerkhulplyn vir onderwysers, Dial-A-Teacher, wat in 2000 saam met die Nelson Mandela Fonds gestig is.

Hul plase in Franschhoek, Swellendam en in die Wieg van die Mensdom is net ’n paar van die dinge wat Amy besonder besig hou. Sy stel binnekort haar eie Cap Classique-vonkelwyn sowel as haar eie velsorgreeks onder die naam Amelia (haar geboortenaam) bekend. Sy is ’n betrokke ma en reël, onder meer, ’n jaarlikse swemfees vir die skool wat haar kinders bywoon.

Mariska Thorpe

Mariska Thorpe. (Foto: Verskaf)

Mariska Thorpe, wat vir ʼn geruime tyd ’n welvaartbestuurder was, woon saam met haar man, Quintus, en hulle dogter, Ocean, in dieselfde kompleks in Franschhoek as Amy en haar gesin.

Mariska hou nie van stilsit nie. Sy en Quintus verhandel aandele, maar sy bestuur ook ’n onderneming wat tweedehandse klere nuwe lewe gee. Mariska en haar man is kranige landlopers, oftewel trail runners, en sy is ’n perfeksionis in alles wat sy aanpak.

Karen Schwendtke

Karen Schwendtke. (Foto: Verskaf)

Karen Schwendtke woon in Val de Vie tussen die Paarl en Franschhoek. Sy is ’n suksesvolle sakevrou met ’n BCom Rekeningkunde-graad van die Universiteit van Pretoria en ʼn meestersgraad in besigheidsleierskap van Unisa agter haar naam en ook ’n graad in Visual Basic-programmering van Harvard in die VSA.

Ten spyte van lang werksure maak sy ook tyd vir groot liefdadigheidsprojekte. In tye van nasionale nood het sy met die voorsiening van water en veevoer gehelp. Kinders lê haar na aan die hart en sy is betrokke by geldinsamelingsprojekte vir CHOC, die kinderkankerstigting van Suid-Afrika. Sy is die trotse ma van twee dogters, Saskia en Arabella.

Candice Bester

Candice Bester. (Foto: Verskaf)

Candice Bester bly in die Aan de Weber-landgoed in Stellenbosch. Sy is die ma van Emma en is getroud met Werner. Sy was lank as sangeres in die uitvoerende kunste betrokke, maar het die verhoog vir die korporatiewe wêreld verruil.

Daar het sy, onder meer, haar merk gemaak as die bemarkingsbestuurder vir Quench, wat deur The Foschini Group (TFG) gekoop is. Candice droom egter steeds daarvan om in die toekoms weer agter die mikrofoon te staan.

Sy speel graag gholf, het ’n groot versameling whiskies en fasiliteer ’n maandelikse vasvrae-aand. Candice en Werner is in die proses om ’n restaurant oop te maak.

Michelle van Zyl

Michelle van Zyl. (Foto: Verskaf)

Michelle van Zyl is ’n mediese dokter wat in trauma gespesialiseer het en daarna ’n suksesvolle algemene mediese praktyk gehad het. Deesdae is sy ’n estetika-dokter wat haar op behandelings soos botoks toespits.

Sy en haar man, dr. André Olivier, woon in die Boskloof Eco Estate in Somerset-Wes. Hulle is die ouers van Hanno en Heidi. André het ook twee seuns uit sy vorige huwelik, wat in Namibië woon.

Michelle onthaal graag en droom daarvan om haar eie geselsprogram op TV te hê.

Anita Lloyd

Anita Lloyd. (Foto: Verskaf)

Anita Lloyd woon buitekant die Paarl in ’n pragtige vallei. Sy en haar man, Boyce, is skoolliefdes en sy het haar loopbaan as onderwyseres opgegee om hom in sy beroep te ondersteun. Hulle het vir tien jaar dwarsoor die wêreld vir Boyce se werk gewoon voordat hulle uiteindelik na Suid-Afrika teruggekeer het.

Boyce is sedert 2016 die uitvoerende hoof van die Ko-operatiewe Wijnbouwers Vereniging van Zuid-Afrika (KWV). Anita het ’n meestersgraad in linguistiek en het ’n voorliefde vir die studie van tale. Buiten haar man en haar katjies is Anita se grootste prioriteite haar huis, kuns en reis.

  • Die Real Housewives van die Wynlande begin op 20 April 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AH ·

Ek kon nog nie uitwerk wat die doel van die reekse eintlik is nie. Is dit om ons gewone huisvroue te laat klein voel omdat ons nie al die prag en praal kan bekostig nie? Moet ons nou hierdie mense as rolmodelle beskou? Ek sal bly wees as iemand my kan antwoord.

NS. Dis nie suur druiwe nie! Ek is baie gelukkig met my lewe.

skurweberg ·

Dit is baie mooi, maar kan ons hierdie sake in Suid Afrika met al die nood nog bekostig ? Ons sal moet tred hou met die realiteite

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.