Dié ‘weggooigoed’ het ‘ewigheidswaarde’

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel in die Pretoriase Moot. (Foto: Mariska Nanni)

Vir een is dit dalk weggooigoed, maar vir ʼn ander is dit ʼn winskopie wat hul oë laat blink.

Solidariteit Helpende Hand se tweedehandse winkels – bekend as Ons Winkel – bring dié mense bymekaar en daarmee saam skep hulle sommer “ewigheidswaarde” in die vorm van armoedeverligting en werkskepping.

En maak maar seker jy’t genoeg snuffeltyd, want wanneer jy by ʼn Ons Winkel instap, is daar alles van klere en boeke tot meubels, kombuisware en speelgoed.

Die produkte in die winkels word hoofsaaklik moontlik gemaak deur skenkings wat elke Ons Winkel by lede van die publiek ontvang. Dit word gesorteer, ooreenkomstig met soortgelyke tweedehandse items geprys en dan in die winkels verkoop.

“Ons uitgangspunt is dat enige item wat in iemand se huis of werkplek oorbodig geraak het, maar wat steeds bruikbaar is vir die doel waarvoor dit gemaak is, altyd welkom in ons winkels is,” sê Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake.

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel in die Pretoriase Moot. (Foto: Mariska Nanni)

Dié skenkings het ook wat Nel noem “ewigheidswaarde”; die opbrengs uit die winkels word onder meer in studielenings teruggeploeg en gebruik vir armoedeverligting of die aanstel van maatskaplike werkers.

Dit gebeur egter soms dat winkels ook ’n skenking ontvang wat nie meer bruikbaar is of verkoop kan word nie.

“In die meeste gevalle sal winkeleienaars, indien enigsins moontlik, tog iets nuttigs uit elke skenking probeer kry, of kreatiewe maniere soek om dit te herbenut. As daar stukkende klere of materiaal is wat nie gered kan word nie, sal hulle byvoorbeeld lappe daaruit sny, pakkies opmaak en dit aan plaaslike werktuigkundiges verkoop wat ’n lap dikwels net een of twee keer kan gebruik voordat dit weggegooi moet word.

“Só dien dit steeds ’n doel en is daar die minimum vermorsing van ons waardevolle skenkings,” sê Nel.

Items soos boeke wat nie in die winkels verkoop kan word nie, word aan skole, tweedehandse boekwinkels en dies meer geskenk of verkoop.

Die produkte in die winkels word hoofsaaklik moontlik gemaak deur skenkings wat elke Ons Winkel by lede van die publiek ontvang. (Foto: Mariska Nanni)

Boeke wat beskadig is of waarvan die inhoud heeltemal verouderd is – soos stokou handboeke – word herwin.

Dieselfde geld vir ander herwinbare items wat die winkels nie kan verkoop nie, insluitend glasware en items van hout.

Enigiets wat glad nie meer herwin of herbenut kan word nie, moet uiteraard weggegooi word.

Sakemodel

Landwyd is daar 125 takke van Ons Winkel. Die meeste hiervan is in die Wes-Kaap, maar die winkels met die grootste omset is in Pretoria geleë.

Die winkels val almal onder Helpende Hand Sake, ’n aparte regsentiteit van die organisasie Helpende Hand. Nel sê dit is egter ’n volwaardige filiaal wat deur Helpende Hand MSW besit word.

“Dit is die voertuig wat ons gekies het om die winkels te bedryf.

Johan Nel, uitvoerende direkteur van Helpende Hand Sake. (Foto: Pieter Cloete)

“Dié regsentiteit gaan ’n vennootskap met ’n winkeleienaar aan; individuele vennootskappe vir elke individuele, geografiese gebied. Die Pretoriase Moot word byvoorbeeld as een geografiese gebied beskou, en daar sal dan met ’n winkeleienaar ’n individuele kontrak aangegaan word vir elk van die winkels wat die eienaar in daardie gebied besit.”

Nel verduidelik dat Helpende Hand Sake ’n gelyke vennootskap met elke winkeleienaar het, maar dat die wins op ’n 60/40-persentasiebasis verdeel word nadat winkeleienaars hul huurgeld betaal het: uit die wins gaan 60% aan die winkeleienaar en 40% na Helpende Hand.

“Dit bly ’n sakeonderneming en elke winkeleienaar het bedryfskoste om aan te gaan, insluitend die salarisse wat hulle moet betaal. Die huurkontrak is ook in die winkeleienaar se naam.”

Soos met die meeste kettingwinkels is daar ’n handleiding met riglyne van hoe elke Ons Winkel bedryf behoort te word en die standaard waaraan dit moet voldoen. Helpende Hand bied ook ondersteuning deur middel van opleiding.

Die produkte in die winkels word hoofsaaklik moontlik gemaak deur skenkings wat elke Ons Winkel by lede van die publiek ontvang. (Foto: Mariska Nanni)

 

Die produkte in die winkels word hoofsaaklik moontlik gemaak deur skenkings wat elke Ons Winkel by lede van die publiek ontvang. (Foto: Mariska Nanni)

 

Die produkte in die winkels word hoofsaaklik moontlik gemaak deur skenkings wat elke Ons Winkel by lede van die publiek ontvang. (Foto: Mariska Nanni)

 

Winkeleienaars het egter tot groot mate vryheid oor hoe hul winkels bestuur word, wat hulle verkoop en wat elke item in die winkel kos.

“Dit is winkeleienaars se verantwoordelikheid om pryse te bepaal en dit is ook hul reg om afslag toe te staan soos hulle goeddink. Ons hoofkantoor meng nie daarby in nie. Winkeleienaars is die beste in voeling met dit wat mense uit hul gemeenskappe bereid is om te betaal.

“Dit is eintlik maar ’n normale vryemarkbeginsel.”

Ouditstelsels

Die winkels word deeglik geoudit en omdat daar dikwels met massaskenkings gewerk word, het Helpende Hand stelsels ingestel om onder meer beheer oor voorraad en inkomste te verseker.

Een van dié stelsels is ’n vorm wat skenkers moet invul.

“Die dilemma wat ons het, is dat mense in baie gevalle nie hierdie vorms wil invul nie. Dit skep ’n risiko omdat ’n mens uiteraard nie kan bepaal wat alles in voorraad ingekom het nie.

“Ek kan skenkers egter verseker dat hul data nie misbruik of gedeel sal word nie. Dit sal nie gebruik word om mense te bel om by enige organisasie aan te sluit nie. Daar is baie mense wat bereid is om ons saak te ondersteun, maar hulle kan dit nie noodwendig finansieel doen nie, wel deur middel van skenkings.

“Ons het waardering dat hulle op dié manier bydra.”

Nel sê winkeleienaars kan wel die data gebruik om dalk ’n boodskap te stuur indien daar ’n spesifieke behoefte in die gemeenskap ontstaan, óf om skenkers te bedank vir hul bydraes.

Nog ’n stelsel sluit in kasregisterstrokies. Omdat winkels dikwels in kontant handel, sê Nel dat alle klante op ’n kasregisterstrokie kan en moet aandring.

“Ons het elke winkel gehelp om ’n kasregister te hê. Op hierdie manier kan ons verseker dat die geld wat elke winkel invorder, eindelik by die regte plek uitkom.”

Winkels speel ‘belangrike rol’

Nel sê die winkels speel ’n geweldig belangrike in die bereik van Helpende Hand se doelwitte, insluitend die verligting van Afrikaner-armoede en die hantering van ander maatskaplike kwessies in gemeenskappe.

“Die goeie groei van die winkels, veral oor die afgelope vyf jaar, het ook vir Helpende Hand groei op ander gebiede moontlik gemaak.

“Van die belangrikste gebiede is die opbrengs uit die winkels wat in studiefondse teruggeploeg word. Dit skep ewigheidswaarde.

“As jy ’n student met ’n lening kan help met geld wat uit ’n winkel voortgebring is, beteken dit dat skenkings eintlik vir ewig ’n doel dien. Daardie student gaan studeer, kry ’n goeie werk en kan dan vir sy gesin sorg.

“Dan is daar ’n algehele verval van die maatskaplike stelsel op regeringsvlak in Suid-Afrika. Ons het die gaping raakgesien dat ons maatskaplike dienste vir ons mense sal moet skep en beskikbaar stel. Dit sluit die indiensneming van maatskaplike werkers in.

“Ons doelwit was om teen 2025 altesame 25 maatskaplike werkers in diens te hê. Danksy die groei en opbrengs uit die winkels, het ons reeds in elk van ons streke landwyd ’n maatskaplike werker op grondvlak.

“Elke maatskaplike werker se salaris en bedryfskoste word volledig uit die opbrengs van die winkels in daardie streek gefinansier. Sommige streke het selfs al twee maatskaplike werkers.”

Helpende Hand het boonop aan die begin van die jaar reeds sy teiken behaal om 25 maatskaplike werkers in diens te hê.

Die winkels dra ook by tot armoedeverligting in gemeenskappe en skep tans sowat 370 werksgeleenthede.

Verder kan enige lid van die gemeenskap by ’n Ons Winkel goedere aankoop – hetsy vir persoonlike gebruik of aankope in groot maat om dan weer hul eie inkomste aan te vul deur goedere te herverkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antoinette ·

Die Solidariteit Helpende Hand se tweedehandse winkels is te duur, mens kry nie ‘n winskopie daar nie. Baie terleurstellend en die mense is half ongeskik en onhulpvaardig. Ek besoek hulle nie meer so gereeld nie. Net my mening

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.