Diplomaat by kruising beroof; agt vas

Vier van die agt mans wat Vrydag in hegtenis geneem is. (Foto: SAPD)

Agt rowers is Vrydag in hegtenis geneem kort nadat ʼn diplomaat op die hoek van Burnett- en Festivalstraat in Hatfield, Pretoria, beroof is. Die voorval het omstreeks 14:00 plaasgevind.

Die polisie vermoed die verdagtes is moontlik deel van ʼn sindikaat wat vir ʼn vlaag gewapende rooftogte verantwoordelik is. Die modus operandi van dié sindikaat is onder meer om seinversteurders te gebruik en motoriste dan van hul besittings te beroof.

Volgens brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die gewapende mans die diplomaat se voertuig met twee voertuie, ʼn wit Toyota Corolla en wit Ford Ranger, vasgekeer.

Hulle het haar toe van haar handsak en ander besittings beroof en laat spaander.

Die polisie het egter blitsig gereageer en die verdagtes agternagesit. Vier verdagtes is op die N1 agtervolg en nog vier tot by die Ultra City Shell-vulstasie in Midrand, aldus Mathe.

Al agt is in hegtenis geneem. Die polisie het op een vuurwapen beslag gelê, asook drie selfone en drie seinversteuringstoestelle.

Mathe sê die verdagtes is tans in aanhouding, en dat ondersoeke reeds onderweg is om te bepaal of hulle ook met ander voorvalle van gewapende roof of seinversteuringsvoorvalle verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.