Dis-Chem wil appelleer teen boete oor duur gesigmaskers

(Foto: Karen Sandison/ANA)

Die Suid-Afrikaanse apteekgroep Dis-Chem sê hy gaan appelleer teen ʼn besluit van die Mededingingstribunaal waarin hy daaraan skuldig bevind is dat hy buitensporige pryse vir gesigmaskers te midde van die Covid-19-pandemie gehef het.

Die tribunaal het Dis-Chem Dinsdag beveel om ʼn boete van R1,2 miljoen te betaal.

Die tribunaal het bevind dat Dis-Chem artikel 8(1)(a) van die Mededingingswet oortree het deurdat die groep met die aankondiging van die algehele landwye afsonderingstydperk buitensporige pryse vir drie verskillende soorte gesigmaskers gehef het.

“Ons het bevind dat Dis-Chem in die konteks van ʼn wêreldwye gesondheidskrisis met ʼn oormatige vraag na chirurgiese maskers wat noodsaaklik geag word in die stryd teen Covid-19, gewys het dat hy die markkrag geniet en uitoefen deur sy pryse wesenlik te verhoog, sonder ʼn beduidende toename in koste en ʼn beduidende toename in marges.”

Volgens die tribunaal het Dis-Chem versuim om te wys dat die prysverhogings billik was.

Dis-Chem het in reaksie gesê hy gaan die kwessie na die Mededingingsappèlhof verwys omdat die besluit volgens hom ʼn hele aantal feite- en regsfoute bevat.

Die groep het in ʼn verklaring gesê die Mededingingstribunaal het nie in berekening gebring nie dat Dis-Chem op ʼn verantwoordelike manier gereageer het op ontwrigtings in die mark en verhoogde kleinhandelpryse, terwyl hy self beduidende prysverhogings en tekorte van verskaffers ondervind het.

“Ons benadruk weer dat Dis-Chem nie buitensporige pryse vir gesigmaskers gevra het nie. Soos vir almal was dit ʼn uitdaging om voorraad te vind weens die ongekende wêreldwye omvang van die ramp, asook weens die ongekende skielike vraag na maskers,” het Ivan Salzman, Dis-Chem se uitvoerende hoof, gesê.

“Ons doelwit was om maskers te bekom sodat daar aan kliëntevraag voldoen kon word, selfs al het ons plaaslike verskaffers geen beskikbare voorraad gehad nie en al moes ons hoër pryse betaal om miljoene maskers in te voer.”

Die Mededingingskommissie het in Mei vanjaar aan die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid gesê hy ondersoek reeds nagenoeg 1 300 klagtes wat uit die Covid-19-krisis gespruit het.

Tembinkosi Bonakele, kommissiehoof, het gesê die klagtes kom uit die hele kleinhandelsektor en sluit enigiets van groot maatskappye tot klein ondernemings in. Nagenoeg 43% van die klagtes was in Gauteng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Dischem, ek hou daarvan om te sien dat julle verdediging aanteken met klaarblyklik grondige rede.

Anel ·

Hulle is nie die enigstes nie, maar ons mediesefonds wou op ‘n stadium nue met hulle besigheid doen nie, want hulle was nie BEE genoeg nie. So kan verstaan hoekom hulle beboet word, onnodig. Gaan kyk bietjie wat word gevra vir maskers! Belaglik. Elkeen vra wat hy wil. En mens dink dit is tog te oulik om die goed te dra. As dit dan so’ ‘n noodsaaklikheid is, dan kan die staat voorsien. Ek het vir my’ ‘n skerm gemaak en dra dit net waar ek anders toegang geweier word. Ek haal die lug wat die Here voorsien vrylik in, sonder beperking. En ek is gesond en bo 60. En Discem is een van die beter apteke. Mense kry altyd alles wat jy benodig daar en daar is ALTYD opgeleide aptekers, nie slegs assistente nie. Beveg die boete. Iemand soek nou alweer geld.

Scalla ·

Hoop julle wen Dischem, die wat kla oor die prys het mos n keuse om dit op n ander plek te koop en was mos nie verplig nie, vraag en aanbod.

tweeling ·

Tot jy ‘n pensioenaris is wat sy sente moet omdraai, Scalla, dan praat ons weer.

Simon ·

Rerig! Waarom word daar niks gedoen aan die spul wat sigarette teen buitensporige verkoop nie. Die CCP-regering weet mos wie hulle is.

yolli ·

Ek wil ook vra dat daar moet gekyk word na die surgical gloves, ek het elke maand ‘n boks van 100 gekoop voor hierdie lockdown en covid en dan het ‘n boks R180 gekos nou vra hulle R300 dit is ook belaglik, hoekom kon dit nie R180 gebly het nie??? Hoekom ons uit byt??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.