Dis nie áltyd die ‘ref’ se skuld nie

Nieu-Seeland se Ben O’Keeffe in aksie op die veld. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

ʼn Skeidsregter is onlosmaaklik deel van ʼn rugbywedstryd en is as’t ware die 31ste speler op die veld. Sy interpretasie van die spel se reëls kan ongetwyfeld ʼn wedstryd maak of breek, maar kenners meen dis nie áltyd die ref se skuld wanneer jou span verloor nie. Anders as wat menigte omgevoeterde rugbyondersteuner al in die verlede beweer het.

Naas Botha, voormalige Springbok-losskakel, sê die oormaat reëls wat deesdae in rugby toegepas moet word, maak dikwels dat skeidsregters meer betrokke is in die spel as wat hulle behoort te wees en soms te veel inmeng. En ja, daar is kere wanneer ʼn skeidsregter moedswillig is.

“Maar ek kan jou verseker dat geen skeidsregter ooit op die veld gaan met die ingesteldheid dat ʼn bepaalde span sal wen of verloor nie.”

Met die Wêreldbeker-toernooi wat oor net ʼn paar uur in Frankryk afskop, meen oud-Bok-agterspeler Stefan Terblanche daar is baie min skeidsregters – en veral dan goeie skeidsregters – op die internasionale verhoog oor.

“Dit is ʼn ondankbare werk wat hulle doen en ek kry hulle jammer, maar dit is hul beroep. Hulle is in ʼn belangrike posisie wat met baie druk gepaardgaan en hulle moet dienooreenkomstig goed voorberei.”

Hy sê hoewel skeidsregters mense is wat soms foute maak, het hulle deesdae baie tegnologiese hulpmiddels tot hul beskikking.

Matthew Carley (middel) en sy assistent-skeidsregters wag vir die TV-beampte om ’n beslissing te maak. Carley was die hooffluitjieblaser in die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op Twickenham. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

“Ek weet hoe vinnig dinge op ʼn rugbyveld kan gebeur en net soos ʼn speler het ʼn skeidsregter ook net ʼn breukdeel van ʼn sekonde om ʼn besluit te maak. Raadpleeg die TV-skeidsregter of die bunker-hersienbeampte; dit is immers daar om skeidsregters te beskerm sodat die regte beslissings gemaak word. In ʼn Wêreldbeker-toernooi wil jy juis verhoed dat ʼn beslissing een span ooglopend bevoordeel of benadeel. Dit kan die wedstryd van sy mededingendheid beroof.”

Volgens Terblanche kan die bunker-stelsel wel tot ʼn wafferse geelkaartmakietie lei, soos wat skeidsregters probeer om hulself ʼn bietjie op die veld te beskerm.

Tog is ʼn bykomende paar oë nie noodwendig ʼn slegte ding nie. In die drukkoker van ʼn Wêreldbeker-toernooi wil jy die regte ding doen; selfs al neem dit ʼn bietjie langer.

Kobus Wiese glo dit is nie net skeidsregters wat moet pa staan vir hul vertonings op die veld nie. Die slim kêrels wat die reëls neerpen moet ook hand in eie boesem steek.

Die voormalige Springbok-slot, wat in 1995 die Webb Ellis-trofee op Ellispark omhoog gehou het, meen dat rugbyreëls oor hopeloos te veel grys areas beskik.

Hoewel hy begrip het vir spelerveiligheid, waarsku hy dat rugby nie sy slaankrag moet verloor nie. Dit is immers ʼn kontaksport.

“As ʼn speler byvoorbeeld op die voorvoet is en ʼn verdediger ʼn bietjie té hardhandig wegstamp, dan is dit ʼn strafskop teen die baldraer,” het Wiese met ʼn tikkie ongeloof in sy stem gesê.

Dit is soos om ʼn bokser te penaliseer omdat een van sy opstoppers sy teenstander met te veel woema teen die kakebeen getref het.

“Rugbyspelers weet dat hulle een of ander tyd in hul loopbane kliphard getêkkel gaan word. Dit is deel van die spel. Van die reëls is onrealisties en dit kan die spel negatief beïnvloed.”

Sal hy ʼn skeidsregter in vandag se omstanighede wil wees?

Glad nie, sê hy.

  • Wedstrydbeamptes vir die 2023-Wêreldbekertoernooi:

Skeidsregters: Nika Amushukeli (Georgië), Wayne Barnes (Engeland), Nic Berry (Australië), Andrew Brace (Ierland), Matthew Carley (Engeland), Karl Dickson (Engeland), Angus Gardner (Australië), Ben O’ Keeffe (Nieu-Seeland), Luke Pearce (Engeland), Jaco Peyper (Suid-Afrika), Mathieu Raynal (Frankryk) en Paul Williams (Nieu-Seeland).

Assistent-skeidsregters: Chris Busby (Ierland), Pierre Brousset (Frankryk), James Doleman (Nieu-Seeland), Craig Evans (Wallis), Andrea Piardi (Italië), Christophe Ridley (Engeland) en Jordan Way (Australië).

TV-skeidsregters: Brett Cronan (Australië), Tom Foley (Engeland), Marius Jonker (Suid-Afrika), Brian MacNeice (Ierland), Joy Neville (Ierland), Brendon Pickerill (Nieu-Seeland) en Ben Whitehouse (Wallis).

  • Beamptes vir die Springbokke se openingswedstryd teen Skotland:

Skeidsregter: Angus Gardner

Assistent-skeidsregters: Nika Amushukeli en Jordan Way

TV-skeidsregter: Ben Whitehouse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.