Dís rede vir minder beurtkrag, sê kenner

Argieffoto (Foto: AFP)

Die beskikbaarheid van Eskom se vloot kragstasies vanjaar verskil nie wesenlik van dieselfde tyd verlede jaar nie. Van waar dan die welkome verskynsel van minder beurtkrag vanjaar?

Die vraag na Eskom se elektrisiteit raak eenvoudig ál minder, verduidelik die onafhanklike energiekenner en besturende direkteur van EE Business Intelligence, Chris Yelland.

Hy sê die vraag na die krag wat Eskom opwek, neem af namate ál meer Suid-Afrikaners van alternatiewe kragbronne soos sonkrag en gas begin gebruik maak.

Die sukkelende ekonomie, vinnig stygende prys van Eskom en munisipale krag “van twee tot drie keer die inflasiekoers”, asook die aansluiting van groot hernubare energie- en battery-energie-bergingsaanlegte tot die netwerk speel ook ʼn groot rol in die vermindering in die vraag na Eskom se elektrisiteit. Dit gebeur boonop ál vinniger.

Dit alles verlig die jare lange las op Eskom en lei tot ʼn aansienlike vermindering in die voorkoms en intensiteit van beurtkrag vanjaar vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, sê Yelland.

Yelland sê dat Eskom al jare lank in ʼn sogenaamde doodspiraal van stygende pryse en beurtkrag is, wat veroorsaak dat klante na alternatiewe energiebronne aanskuif.

Eskom was terselfdertyd ook in ʼn sogenaamde skuldspiraal wat veroorsaak het dat ʼn reusebedrag van R254 miljard toegewys is om die las op die reeds sukkelende kragvoorsiener se balansstaat te verminder.

Foto ter illustrasie. (Foto: Natsuki via Unsplash)

“Die nutsdoodspiraal en skuldspiraal, én die nasionale tesourie, dwing nou Eskom en die hele elektrisiteitsvoorsieningsbedryf in Suid-Afrika om die privaat sektor se rol in finansiering, konstruksie, bedryf en instandhouding van elektrisiteitsopwekking en transmissie te herstruktureer, te ontbondel en te vergroot,” sê Yelland.

Dit moet egter nie as die privatisering van Eskom beskou word nie, verduidelik Yelland, maar eerder as toenemende openbare deelname.

“Wat transmissie betref, sien ons die skepping van ʼn nominaal onafhanklike, staatsbeheerde nasionale transmissiemaatskappy (NTCSA), ʼn onafhanklike markoperateur en ʼn elektrisiteitsmark in Suid-Afrika.

“Wat opwekking betref, sien ons die ontstaan van ʼn gediversifiseerde en mededingende kragopwekkingsektor, bestaande uit Eskom en voormalige Eskom-opwekkers, munisipale kragopwekkers, honderde onafhanklike kragprodusente en letterlik duisende groot, medium en klein ‘prosumers’ (kliënte van elektrisiteit wat tegelykertyd produsente en gebruikers van elektrisiteit is).”

Yelland sê in plaas daarvan dat Eskom die enkele koper van elektrisiteit van sy eie kragopwekkers en onafhanklike hernubarekragprodusente (IPP’s) is, is daar ʼn toenemende neiging om elektrisiteit tussen onafhanklike kragprodusente, -opwekkers en -handelaars aan ʼn menigte klante oor elektrisiteitsnetwerke in openbare besit in Suider-Afrika heen te vervoer en te verhandel.

Hy sê daar vind dus ʼn fundamentele verandering in die elektrisiteitsektor van Suid-Afrika plaas “aangesien dit dié in baie ander dele van die wêreld begin inhaal”.

“Hierdie verandering is nou aan die gang, maar is nog nie gedane sake nie en kan ongedaan gemaak word indien reaksionêre, terugskouende doemprofete en diegene wat hande gevou in die land sit –met gevestigde belange in die mislukte status quo – polities hul sin kry.”

Die Lethabo-kragstasie. (Foto: Ihsaan Haffejee / AFP)

Yelland glo egter daar is rede tot optimisme.

“Die tempo van hervorming in die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf van Suid-Afrika is besig om momentum te kry, aangedryf deur die behoefte aan ‘ontkoling’ en voorsieningsekerheid.

“Daar is ook ʼn groeiende veelparty-konsensus in die parlement oor die aanvaarding van die langverwagte Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering. Sodra dit afgekondig is, sal die nuwe wet die nodige wetlike beleid, asook die regulatoriese en beplanningsraamwerk vir die beoogde hervormings én die toekomstige elektrisiteitsvoorsieningsbedryf in Suid-Afrika verskaf.”

Yelland sê die nodige hervormings in die wanfunksionele Eskom- en munisipale en elektrisiteitsverspreidingsbedryf moet egter nog gebeur.

“Hierdie netelige kwessie is nog onopgelos,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Papsak ·

Ja ek stem verkiesing om die draai kyk 30 Mei dan is daar weer foute en niks krag nie

Anel ·

Hoe kleiner die aanvraag, hoe minder is ons mos veronderstel om te betaal? Maar nee, dieselfde hoeveelheid mense moet aangehou word en moet nog dieselfde salarisse kry. Verregaande! Almal kan nie sonkragstelsels bekostig nie!

Flip ·

Hulle begin nou regkom, kan dalk weer my kruisie daar gaan trek.

Marthinus Johannes ·

Yep, verkiesings foefie, beurtkrag net n manier om hoë tariewe te forseer.

Estelle ·

Julle vat die woorde so reg uit my mond. Dit is absoluut ‘n verkiesings foefie. Na die verkiesing sien ons weer vir Stage 5 en 6.

domheks ·

Dis goed dat mense alternatiewe krag aanskaf. Geen mens kan by die prys verhogings by hou nie. Behalwe die wat alles in die bakhand verniet kry.

Duck ·

Maak die deure toe, sluit die hekke en gooi ‘n “For Sale” sign op Eskom se hekke.
For Sale, nearest cash offer.

Martie ·

Die ANC sal enige aap uit die hoed trek om stemme in te win tydens die verkiesing op 29 Mei.
Hou maar dop… op 30 Mei is dit weer Fase 6 beurtkrag.

Martie ·

Omtrent almal het al so panele en batterye so hoe e krag gebruik ons nou regtig? Dis mos logies dat loadshedding moet verminder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.