‘Dit voel soos ʼn fliek’

Frikkie en Judy May Kapp (Foto: Jud’sies/Facebook)

Judy May Kapp, eienaar van die Jud’sies Gifts and Goodies-winkel in Middelburg, Mpumalanga, sê die gebeure voel soos iets uit ʼn fliek ná haar winkel vandeesweek met petrolbomme bestook en daar skote op haar en haar man Frikkie (Kappie) gevuur is.

Maroela Media het vroeër berig Willie Bester het ʼn horlosiewinkel, Die Horlosie Kliniek, in die Fountain Corner in Doleritestraat by die Middelburg-winkelsentrum gehuur. Bester het sy eie voertuig en winkel ook met ’n petrolbom aan die brand gesteek. Sy verkoolde liggaam is ure later in sy winkel gevind nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het.

Kappie sê die voorval spruit uit ʼn vendetta wat Bester teen hulle as eienaars gevoer het. Hy en sy vrou het vantevore reeds in 2019 ‘n beskermingsbevel teen Bester bekom wat vir vyf jaar geldig is ná Bester Judy geteister het.

Kappie sê die voorval vandeesweek hou nie met parkering verband soos wat vroeër aangevoer is nie. “Dit is ʼn kwessie wat al lankal opgelos is.”

Hy sê dit het finansieel nie goedgegaan met Bester nie en hy het ander mense daarvoor blameer.

Hy het die afgelope paar weke die egpaar gereeld gedreig en Kappie het selfs van doodsdreigemente te hore gekom.

Alhoewel Bester onbevoeg verklaar is om ʼn vuurwapen te besit, het hy weer ʼn vuurwapen in die hande gekry.

“Ons was Donderdagaand besig om toe te sluit. Ons het ʼn paar goed bymekaargekry toe hy skielik twee petrolbomme in die winkel gegooi het.”

Kappie en Judy het dadelik na agter gevlug om van die vlamme weg te kom, toe hy besef die winkel se agterdeur is gesluit.

Skermgreep uit die video

Judy het egter reeds teruggehardloop om die sleutel voor in die winkel te gaan haal en ʼn tweede keer om ook die brandblusser te gaan haal.

Kappie, wat voorheen kaptein van Proto was, ʼn veiligheidspan op die myne, het dadelik ingespring om die brand te blus.

Terwyl hy besig was, het Bester teruggekeer om skote op die egpaar te vuur. Kappie verduidelik beurtkrag het in daardie stadium ingetree en daar is dus nie beeldmateriaal beskikbaar waar skote op hulle gevuur word nie. Hulle het egter reeds verskeie patroondoppies in die winkel opgetel as bewyse. “Hy het vermoedelik minstens ses skote op ons gevuur.”

Kappie het die noodnommer 10111 geskakel, maar kon nie deurkom nie. Hy het daarna ʼn kennis in die polisie gebel en dié het vermoedelik die polisie in kennis gestel van die gebeure.

Kappie se skoonseun en pastoor het ook sekuriteit na die winkelsentrum ontbied.

“Ek het sewe weke gelede ʼn knievervanging ondergaan. Dit is ʼn wonder dat ek nie my been seergemaak het nie.”

Bester het intussen die winkel verlaat en het vermoedelik weer sy vuurwapen gaan herlaai. “Ek dink hy was onder die indruk ons is vasgekeer. Hy het die skote gevuur waar ek en my vrou gestaan het.”

Bester het ook op ander persone by die winkelsentrum skote gevuur.

Bester het daarna ʼn petrolbom op sy eie voertuig gegooi en sy winkel met ʼn petrolbom aan die brand gesteek voor hy vermoedelik sy eie lewe geneem het.

Jud’sies Gifts and Goodies (Foto verskaf)

“Dit voel of ek in ʼn fliek was,” sê Judy. “Ek dink nie ons besef al presies wat gebeur het nie.” Sy voeg by as die petrolbom, wat Bester op die blombak gegooi het ook afgegaan het, dan sou sy nie die sleutel kon kry sodat sy en Kappie uit die winkel kon kom nie.

“Ek is baie opgewonde om te sien wat die Here vir die toekoms beplan. Ek het vir my man gesê die Here gaan weer vir ons groot deure oopmaak.”

Sy sê dit is ʼn wonderwerk dat sy en haar man ongeskonde is. “Dit is net my toonhare wat bietjie geskroei het!”

Vir haar was die winkel soos ʼn gawe van die Here af toe sy 16 jaar gelede die deure van Jud’sies oopgemaak het.

Skade aan die winkel:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.