‘Vandag skiet ek jou vrek’

Marita Hattingh van Azalea Bloemiste in Middelburg (Foto: Azalea Bloemiste, Facebook)

“Hy het drie treë van my af weggestaan en ek kon in sy oë sien hy is berserk.”

Só vertel Marita Hattingh (78), eienaar van Azalea Bloemiste in Middelburg, Mpumalanga, oor die man wat Donderdag ʼn vuurwapen op haar gerig het voordat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het.

Die man het die horlosiewinkel, Die Horlosie Kliniek, langs Hattingh se bloemiste in die Fountain Corner in Doleritestraat, regs langs die Middelburg-winkelsentrum gehuur. Hattingh het hom aan Maroela Media as Willie Bester geïdentifiseer.

Bester het, volgens Hattingh, ook sy voertuig en winkel met ’n petrolbom aan die brand gesteek. Sy verkoolde liggaam is ure later in sy winkel gevind. Daar is ook verskeie skote op ander persone afgevuur.

Die horlosiewinkel en voertuig was in vlamme gehul (Foto: Verskaf)

Hattingh vertel sy was omstreeks 17:00 besig in haar winkel toe sy ’n harde slag hoor wat soos ’n ontploffing klink. Sy het gaan kyk wat aangaan toe sy Bester sien.

“Ek kon sien hy is berserk en ek het geweet hier is groot probleme. Ek is terug in my winkel en het die deure agter my toegemaak. Hy [Bester] het die deure weer oopgemaak en my winkel binnegekom. Hy het drie treë van my gestaan en ’n pistool op my gerig,” vertel Hattingh.

“Hy het vir my gesê: ‘Vandag skiet ek jou vrek’.”

Hattingh het haar hande teenmekaar gedruk en Bester gesoebat om haar nie te skiet nie.

“Ek het soos ’n soutpilaar daar gestaan. My brein het heeltemal afgeskakel. Ek het aan niks gedink nie.”

Die volgende oomblik het Bester die winkel verlaat. Dit is toe dat hy sy voertuig en winkel aan die brand steek.

“Hy het in sy winkel gegaan en het net nooit weer uitgekom nie. Sy verkoolde liggaam is die aand daar uitgehaal.”

Nadat Bester sy winkel en voertuig aan die brand gesteek het, het Hattingh gevoel haar winkel se vensters begin warm word.

“My grootste vrees was dat die vlamme na my winkel gaan versprei. Ek was bekommerd daaroor omdat ek nie versekering het nie.

“Ek het begin bid en die Here gevra om hulp te stuur. My broer se seun, De Wet Loods, het toe daar aangekom en ’n brandslaner gegryp en die vlamme begin blus. Hy en sy gesin was toevallig by die winkelsentrum oorkant die pad en het die vlamme by my winkel gesien en toe inderhaas kom help.

“Hy is my held.”

Skade aan die horlosiewinkel weens die brand (Foto: Verskaf)

Willie Bester se verkoolde liggaam is Donderdagaand uit die winkel gehaal (Foto: Verskaf)

Hattingh vertel Bester het jare lank ’n stryd met ander huurders gevoer oor ’n gestremde parkeerplek voor sy winkel.

“Hy het ’n manie oor gestremdes gehad.”

Daar is toe later ander parkering vir gestremdes aangewys en die betrokke parkering waaroor Bester glo gekla het, is in ’n laaisone verander, vertel Hattingh.

“Ek glo hierdie hele uitbarsting met die skote en petrolbom was haarfyn beplan.”

Dit is in hierdie stadium nie duidelik of Bester wel sy eie lewe geneem het nie, en die polisie het ook nog nie Maroela Media se navrae hieroor beantwoord nie.

Volgens Hattingh was sy bang vir Bester vandat sy ʼn jaar gelede by haar winkel ingetrek het. Sy is die afgelope jaar in dié spesifieke winkel, maar bedryf haar bloemiste al vir 43 jaar.

Buiten die rookskade in haar winkel is Hattingh ook nog erg deur die voorval getraumatiseerd.

“Ek is net dankbaar dat ek lewe.”

Hattingh het in 2001 ’n plaasmoord oorleef waartydens haar man, Pieter (69) oorlede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nettie ·

Sjoe mens, dis ontsettend. Ek is so dankbaar God het jou (weer) beskerm. Maar watte verskriklike ondervindings het jy nie nou en voorheen al deurgemaak nie. Dis so hartseer. Jy probeer op jou ouderdom ‘n lewe maak, na jy deur ‘n plaasaanval en -moord is, en nou gebeur hierdie. Mag God jou nou toevou in liefde en berusting en goedheid. Sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.