Ditsem, Bulls!

Kurt-Lee Arendse het twee drieë gedruk. (Foto: GB Jordaan)

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, het kort ná die Bulls se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Leinster ʼn foto van ʼn glimlaggende Kurt-Lee Arendse op WhatsApp gestuur.

Die onderskrif het ʼn kort en kragtige boodskap bevat: Dié is ʼn speler van wêreldgehalte.

Die Pretorianers se Springbok-vleuel het ʼn vuurwerkvertoning teen die Ierse klub gelewer en sy avontuurlustige spel het ’n deurslaggewende rol in die Bulls se wegholoorwinning van 62 – 7 gespeel.

Toegegee, van die besoekers se grootste sterre is al aan’t voorberei vir die komende Kampioenebeker-halfeindstryd teen Toulouse, maar daar sal in die geskiedenisboeke aangeteken word dat die Bulls met Leinster afgereken het; nie Leinster “B” nie.

En om dinge vinnig in perspektief te stel: Daar was nie te lank gelede nog lang trane in Pretoria gehuil toe hul geliefde span in ʼn Curriebekerwedstryd teen die Griffons vasgeval het; tien nederlae op ʼn streep in alle kompetisies het ook tot die algehele gevoel van verdriet bygedra.

Johan Goosen. (Foto: GB Jordaan)

Maar nou word daar in die hoofstad feesgevier.

Die Bulls het immers vir die tweede keer op ʼn streep met Leinster afgereken nadat hulle verlede jaar die VRK-halfeindstryd met een punt in Dublin gewen het. En die Iere het toe op alle suiers gevuur.

Vandag het Arendse en kie onder meer vir die Lions gewys hoe om die besoekers vir die hele wedstryd onder druk te plaas.

In teenstelling met die Johannesburgers – wat verlede week ʼn groot voorsprong teen die einste Iere weggesmyt het – het die Bulls nie hul teenstanders vir een oomblik met rus gelaat nie.

Die voorspelers het gegaffel en die agterspelers het met die voorvoetbalbesit baljaar.

Daar gaan nog baie oor die uitstekende verstandhouding tussen Arendse en Canan Moodie geskryf word, maar spelers soos  Stedman Gans en Harold Vorster het hulself net so goed van hul taak gekwyt.

Die Bloubul-lied mag gerus vanaand gespeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.