Dodetal nou op agt ná gebou ineenstort

Daar word steeds na 44 mense gesoek nadat die syfer van diegene op die bouperseel tot 81 aangepas is. (Foto: Herman Pieters)

Die dodetal ná die gebou-ineenstorting op George in die Wes-Kaap staan nou op agt.

Teen Donderdag kort ná 06:00 is daar reeds 64 uur lank gewerk in ʼn poging om diegene vasgekeer onder die bourommel na veiligheid te bring en daar sou deurnag met die reddingspoging volgehou word.

“Die noodreaksiediens gebruik nou meer substantiewe betonbrekers en bykomende vragmotors om rommel van die perseel te verwyder om vasgekeerde beseerdes te bevry,” lui ʼn verklaring van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.

Die jongste beskikbare inligting wys dat 37 pasiënte uit die gebou gered is. Hiervan is 16 in ʼn kritieke toestand, ses het lewensbedreigende beserings opgedoen en sewe is minder ernstig beseer. Agt mense is dood.

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê die kontrakteurs verantwoordelik vir die gebou in Victoriastraat het nou ook bevestig daar was 81 mense (en nie 75 soos voorheen aangedui is nie) op die perseel toe die ramp plaasgevind het.

Daar word dus nog na altesaam 44 van die werkers op die perseel gesoek.

Die aangepaste syfer kom nadat veiligheidsrekords gefynkam is.

Teen Woensdagaand was daar nie meer reaksie van onder die puin nie.

Colin Deiner, hoofdirekteur vir rampbestuur, het vroeër gesê daar word nou oorgeskakel van reddingstoerusting na slopingstoerusting weens die toestand van die bourommel.

Nasionale rampbestuursentrum help ook

Die nasionale rampbestuursentrum sê hy het die Gautengse soek-en-reddingspan op ʼn gereedheidgrondslag geplaas kort nadat die voorval plaasgevind het. Dié span bestaan uit 40 hoogs opgeleide reddingswerkers wat op kort kennisgewing gestuur kan word om te help.

Die sentrum het ook Dinsdag twee brandweerbeamptes na die toneel gestuur om te help met die assessering van die situasie en die koördinering van steun aan die reddingspoging.

Die sentrum sê benewens hierdie proaktiewe maatreëls is daar Woensdag ʼn span soek-en-reddingstegnici van Gauteng en Noordwes na George gestuur. Hulle word gesteun deur senior bestuurslede van die nasionale rampbestuursentrum, lui ʼn verklaring van die sentrum.

Thembi Nkadimeng, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het haar medelye met almal wat deur die tragedie geraak is betuig en sê die rampbestuursentrum sal alles moontlik doen om te help met die reaksie op die tragedie.

Meesterbouers betuig medelye

“Dit is met swaar harte dat ons verneem het van die ineenstorting van ʼn vyfverdiepinggebou op George,” het Musa Shangase, president van Meesterbouers Suid-Afrika (MBSA), gesê.

“Ons harte is by die families en kollegas van die slagoffers van dié tragedie. Ons bedank alle staatsamptenare, die plaaslike munisipaliteit, nie-regeringsorganisasies, reddingswerkers, die inwoners van George en almal anders wat gehelp het op watter manier hulle ook al kon.”

Shangase sê MBSA bly bekommerd oor die veiligheid van werkers op boupersele en is deurlopend beskikbaar om lede en selfs nie-lede met alle aspekte van beroepsgesondheid en -veiligheid op boupersele by te staan.

“As ʼn bedryfsliggaam gaan ons wag vir die ondersoek om afgehandel te word sodat ons almal weet wat tot die ineenstorting van die struktuur, die beserings en ongelukkig die lewensverlies aanleiding gegee het.”

MBSA is ʼn federasie van geregistreerde verenigings wat kontrakteurs en werkgewers in die boubedryf verteenwoordig. Die onderskeie verenigings wat deel daarvan vorm, verteenwoordig sowat 3 500 kontrakteurs en werkgewers in die bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

melaney ·

Daar is ‘n rede waarom ‘n struktuur in aanbou skielik inmekaar tuimel. Bitter jammer dat soveel hulle lewens daarom moes verloor. Mag geregtigheid geskied.

annie ·

Hierdie ineengestorte woonstelblok in aanbouing word ‘n vreemde storie. Die gebou waarvan nog vloere glo later bybeplan is en glo goedkeuring ontvang het, sou teenaan die bestaande bewoonde strukture staan en bo uittoring wat sommiges se uitsig en ruimte totaal sou oorheers. Die terrein is volgens George-standaarde glo goedkoop bekom. Dit is in ‘n DA-munisipaliteit. Wie was die bekwame munisipale amptenare wat selfs die verdere vloere goedgekeur het? Hoekom? Die ontwikkelaars is glo bekendes op Mosselbaai. Waarom so stil?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die prioriteit is nou om lewens te red, maar sodra die ondersoeke voltooi is gaan die poppe dans. George en die WK se politieke toekoms kan drasties verander.

Frank ·

Hoe bedoel jy? As DA amptenare verantwoordelik is dan “dans die poppe en waai die koppe en verander die politieke situasie”, maar as ANC amptenare verantwoordelik is dan gebeur daar gewoonlik niks?

Republikein in die Wes Kaap ·

Frank, jy weet tog hoe funksioneer die ANC. Alles word onder die mat gevee en hul lede en kiesers sê dis reg. In die DA, en meer spesifiek in die WK, is lede en kiesers minder simpatiek. Die stembus vertel sy eie verhaal. Onthou, daar is reeds probleme in die DA se koukus in George se raadsaal. In Kaapstad bewe Winde se bene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.