Dodetal selfs hoër in Oos-Kaapse busramp

Die sterftesyfer staan nou op 30. (Foto: Road Traffic Management Corporation/Twitter)

Die sterftesyfer ná ʼn busramp in die Oos-Kaap is nou selfs hoër nadat meer as een liggaam in sommige van die lyksakke wat op die toneel gebruik is, gevind is.

Die ongeluk het Maandag op die N2 tussen Oos-Londen en Butterworth plaasgevind. Maroela Media het vroeër berig volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) het die bestuurder vermoedelik beheer oor die bus verloor en dit het omgeslaan.

Altesame 52 passasiers was aan boord. Minstens drie van die slagoffers is kinders.

Unathi Binqose, woordvoerder van die departement van vervoer, sê die nuwe sterftesyfer kom van die forensiese patologiediens wat nadoodse ondersoeke op die oorledenes gedoen het.

“Nadat van die lyksakke oopgemaak is, het hulle besef daar was meer as een liggaam [in sommige van die sakke]; ʼn algemene fout wat volgens hulle gebeur wanneer hulle die toneel opruim, veral in die donker,” sê Binqose.

“Dit word betreur en is iets wat die Oos-Kaap nie weer wil sien gebeur nie.”

Ses mense is tydens die ongeluk beseer en na die Frere-hospitaal in Oos-Londen geneem. Een van hulle was in ʼn bedenklike toestand.

Volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, het die RTMC ʼn ondersoek van stapel gestuur en sal die verslag oor die ongeluk ná afloop daarvan bekend gemaak word.

Die minister het ook sy meegevoel aan die gesinne van die oorledenes betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

Hoe kan jy ( selfs in die donker) nie voel daar is reeds n liggaam in die lyksak nie??! Ons regering hou van “short cuts”, veral as al die fondse geplunder is ipv toerusting aankoop wat broodnodig is. Skandalig en oneerbiedig teenoor die slagoffers en hul families.

Blomme ·

Beslis ongevoelig.. Laat mens wonder hoe het hulle die liggame hanteer? Seker net in die sakke gegooi dis hoekom hulle nie kon sien daar is reeds een in die sak nie.

Anoniem ·

Kan maar net wonder wie in beheer was van die opruiming.
Hoe kan jy nie weet dat daar reeds ‘n liggaam in die lyksak is nie?
Mens het nie lig nodig om gewig te voel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.