Dodetal styg na swaar reën in Margate

(Foto: KZN-regering/X)

Die dodetal het tot vyf gestyg na Sondagaand se swaar reën wat tot kitsvloede en grootskaalse skade in Margate aan die KwaZulu-Natalse kus gelei het.

Drie mense het verdrink nadat hul voertuig meegesleur is terwyl nog ʼn persoon deur weerlig getref en dood is. ʼn Vyfde persoon is dood nadat hy van ʼn dak afgeval het toe hy water probeer keer het.

Nomusa Dube-Ncube, premier van KwaZulu-Natal, het haar hartseer oor die lewensverlies uitgespreek.

(Foto: KZN-regering/X)

“Dit maak ons hartseer dat so baie mense se lewens skielik omvergewerp is deur die vloede wat met verwoestende krag deur hierdie gemeenskappe gespoel het. Ons wil die families van die oorledenes in kennis stel dat ons as die regering van KwaZulu-Natal met hulle is en hulle ondersteun in hierdie moeilike tydperk. Ons deel ook diegene wie se eiendomme en besighede gedeeltelik of heeltemal vernietig is, se diep gevoel van verlies.”

Provinsiale rampbestuurspanne sowel as ander organisasies is besig met opruimoperasies. Dube-Ncube het gesê onmiddellike maatreëls word ingestel om verligting en bystand te bied aan diegene wat deur die vloede geraak is.

Daar word ook gepoog om die omvang van skade aan eiendom te bepaal en die onmiddellike behoeftes van die betrokke gemeenskappe te evalueer.

“Dit is in tye soos hierdie dat ons as ’n gemeenskap moet saamstaan. Ek doen ’n beroep op besighede, organisasies en individue om ’n helpende hand uit te steek na ons medeburgers in Margate wat deur groot uitdagings in die gesig gestaar word in die nasleep van hierdie natuurramp.”

Die swaar reën en gevolglike oorstromings het paaie, ondernemings, kerke en huise beskadig en duisende is dakloos gelaat. Volgens berigte het dit meer as 200 mm in 24 uur gereën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Ai, my hart bloei vir Margate. Het vir seker 25 jaar jaarliks by Margate Sands vakansie gehou. Maar nouja, die verval het gekom. Niemand het eers belang gestel om my week gratis oor te neem nie.

Bolandse Nooi ·

Die arme mense van Margate. Was dit in die Wes-Kaap, was die stormskade binne 1 maand herstel … maar aangesien dit in KZN is, sal daar oor 4 jaar nog steeds weggespoelde paaie, brûe, beskadigde geboue ens. ens. ens. wees.

Janee ·

Hartseer….veral inaggenome dat niks waarskynlik herstel sal word….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.