Dodetal styg verder ná Implats-mynongeluk  

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Die dodetal staan nou op 13 ná verlede Maandag se ongeluk by Impala Platinum (Implats) in Rustenburg.

Implats het bevestig dat nog ʼn werker Sondag in die hospitaal aan sy beserings beswyk het. Teen Maandag was 23 werkers reeds uit die hospitaal ontslaan. “Agt van die 50 werknemers wat steeds in die hospitaal behandel word, ontvang sorg vir kritieke beserings.”

Volgens Implats is daar in oorleg met die families van geaffekteerde werknemers besluit dat 6 Desember as ʼn dag van herinnering opsygesit sal word vir almal wat deur die tragiese gebeurtenis geraak is. ʼn Gedenkdiens sal op dié dag by die myn gehou word. “In ooreenstemming met die wense van die betrokke families, sal Implats eers op die dag van die gedenkdiens die name van die oorledenes bekend maak.”

Implats het vroeër gesê hy sal deurlopende ondersteuning aan die families van die oorledenes bied en dat fondse opsygesit is om met hul begrafnisse te help. Daar sal ook vir die werknemers wat dood is se kinders gesorg word “van hul geboorte tot die voltooiing van hul tersiêre studies”.

Produksie by skag 11 en skag 11C sal opgeskort bly terwyl interne ondersoeke na die ongeluk gedoen word, herstelwerk onderneem word en tot regulatoriese goedkeuring vir die hervatting van produksie verleen word. Produksie by alle ander skagte is verlede week hervat.

Implats het vroeër gesê skag 11 is 1 000 meter diep met bedrywighede op 20 vlakke.

Die voorval verlede Maandag het plaasgevind nadat die werknemers na vlak 17 gehys is, soos geskeduleer, toe die voerband skielik van rigting verander en afwaarts beweeg het. “Die noodprotokol vir só ʼn voorval is onmiddellik en outomaties geaktiveer. Hoewel die opwentou in plek was, het die noodprotokol ongelukkig versuim om dadelik die hysbak se skielike val na onder te voorkom.”

Die hysbak by skag 11 het sowat 200 meter ver getuimel met tientalle mynwerkers wat in die hysbak was.

Johan Theron, woordvoerder van Implats, het vroeër aan Maroela Media gesê die outomatiese beheerstelsel van die hysbak het om ʼn onverklaarbare rede wanfunksioneer en die hysbak in die verkeerde rigting teen ʼn hoë spoed gestuur.

Theron het gesê dat die operateurs aan diens dadelik beheer oor die outomatiese beheerstelsel geneem en die noodremme aangeslaan het toe die operateurs besef het daar is moeilikheid. Dit was egter te laat en die hysbak het teen ʼn staalkonstruksie onder in die skag gebots.

Sterftes is op al drie vlakke van die hysbak aangeteken. Die hysbak het drie vlakke, elkeen met die kapasiteit om 35 mynwerkers te vervoer.

Die meeste sterftes en ernstigste beserings is egter op die onderste vlak aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

TRAGIESE gebeurtenis! Innige meegevoel aan al die familie en vriende van hierdie werkers.

ES ·

Daar is 4 verskillend noodstelsels wat in werking tree in so ‘n geval – ek wil verstaan hoe dit moontlik is dat al 4 daardie stelsels gefaal het??

Voor sy aftrede, was my oom was vir baie jare die senior operasionele ingenieur by al Implats se myne en hy het elke naweek ‘n oudit op al die stelsels gedoen om veiligheid te verseker – dit beteken dat daardie stelsels, vandat hy weg is, nie in stand gehou is nie. Hulle is spesiaal ontwerp om nie onklaar te raak nie.

Iemand is in baie groot moeilikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.