Dogter se spekskietery in ‘skoolvideo’ laat pa skater

Annerie Steyn en haar pa, Schalk, skaterlag in die video oor haar kwansuise tydsbestuur wat volgens hom net ‘n klomp lang stories is. (Skermgreep: Facebook)

“Kom ons wees net gou ernstig, dié tel punte…”

Maar dit het nie saak gemaak hoe mooi Anneri Steyn by haar pa, Schalk gepleit het nie; hy het uitgebars van die lag vir elkeen van haar pogings om haar dag net so ʼn bietjie besiger te laat lyk.

Die 19-jarige Anneri van Welkom in die Vrystaat, moes kwansuis as deel van ʼn Lewensoriëntering-taak ʼn video opneem oor hoe haar dag verloop. En haar pa moes deel daarvan wees. Maar dinge het gou liederlik suid gegaan toe pa Schalk – ʼn polisieman met die vermoë om ʼn spekskietery ʼn myl ver te sien – se lagbuie vir haar lang stories haar pogings elke keer in die wiele gery het.

Sy begin haar dag om 05:00, vertel Anneri in die video. Pa Schalk se kop ruk links. “Jy lieg…”

“Wanneer het jy vyfuur opgestaan?” wil hy weet.

Die twee skaterlag. “Dis die eerste keer wat ek daarvan hoor,” onderbreek Schalk weer die video.

Maar Anneri druk deur. Nadat sy nou vyfuur gaan draf het, kom sy terug en maak ontbyt. Vir almal. Schalk kan sy lag nie hou nie. “Ek hét daai een keer toe mamma nie hier was nie,” probeer sy weer.

Maar Schalk is nie oortuig nie. “Gʼn wonder jy word ʼn prokureur nie,” mompel hy deur die lag.

Anneri probeer weer aangaan met die maak-vir-almal-brekfis-storie. Schalk lag hom byna uitasem.

Sy kom terug ná skool en gaan draf weer. Sy maak ook aandete, was die skottelgoed en pak almal se kosblikke vir die volgende dag. Schalk lê soos hy lag. Niks hiervan is eens naastenby waar nie.

“Sorrie juffrou,” sê Anneri dan gemaak ernstig. “My ma en pa is geskei nou al vir twee jaar, hy weet nie lekker meer wat in ons lewens aangaan nie.”

Nóg ʼn lang storie wat Schalk laat snork van die lag. “As jy só aangaan, gaan dit binnekort wees,” dreig Anneri voor die video eindig en sy aankondig dat hulle nou alles sal moet oordoen.

Die video is al byna 8 000 keer op Facebook gedeel en pa en dogter het talle ander mense saam met hulle laat skaterlag. Daar was egter geen LO-taak nie; die video was net ʼn manier vir Anneri om haar pa nog een van hulle gereelde poetse te bak.

En hy het “hook, line and sinker” daarvoor geval, vertel Schalk. Anneri het die video al laat verlede jaar opgeneem, maar Schalk het dit later eers op Facebook gedeel – onder die opskrif “Ek en Pinocchio” – as ʼn manier om sy middelste dogter terug te kry vir die poets wat sy hom gebak het.

“Ek het so ʼn video op [die aanlynplatform] TikTok gesien en gedink ek wil dit met my pa probeer. Ek het gesê ek het ʼn LO-taak oor tydsbestuur en toe val hy heeltemal daarvoor. Ek het die video so lank as moontlik probeer uitrek, en vir elke ding wat ek gesê het, het hy geval.”

Hulle was verstom oor die duisende mense wat die video reeds gedeel het en die terugvoer wat hulle van mense gekry het. Talle mense is geraak deur die mooi verhouding tussen Schalk en Anneri. Hy en sy vrou, Juanita – en hulle is al 23 jaar gelukkig getroud – het ook nog twee dogters, Caylin (21) en Larisse (14).

Mense van so ver as Swede en Nieu-Seeland het die video gesien en na die gesin uitgereik.

En nee, sê Anneri, wat deesdae deur Unisa studeer om ʼn prokureur te word, sy staan bitter selde vyfuur op. Inteendeel. “Ek is seker die luiste kind in die huis. Ek is glad nie ʼn oggendmens nie en verstaan nie mense wat opstaan en dadelik begin glimlag nie. Ek wil nie eens praat in die oggend nie.”

Schalk sê daar word gereeld in dié huishouding poetse gebak. “Die meeste van die tyd vang ek haar voor die tyd uit, maar Anneri het my met hierdie een lekker gevang.”

Posted by Schalk Steyn on Wednesday, September 29, 2021

 

Posted by Schalk Steyn on Wednesday, September 29, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Misky ·

Dis nou baie oulik en die man het omtrent ‘n aansteeklike lag. Spesiale band tussen pa en dogter.

Kiewiet ·

Askies daar was ‘n lag Gesiggie by toe word dit vraagtekens

Miets ·

Oeeee, ek het nou so gelag die trane het geloop. Julle 2 het my dag gemaak. Wat ‘n oulike dogter en pa!!!!

Marlene ·

So goed om sulke lekker-lag stories te lees – selfs te sien! Moet nooit daai sprankel verloor nie meisiekind. Jy het hierdie ou tannie se dag gemaak ☺

Swerwer ·

Ai, dankie vir die lekker lag! Nou voel alles beter en lyk alles sommer ook vroliker. ‘n Pa duisend!

QueenB ·

Kan sien hul het n baie goeie verhouding uitstekend man ek het self klip hard saam gelag

Herman ·

Nice. Stel jou voor sy is eendag jou prokereer in die hof. Die saak word uitgegooi of jy verloor.

Marius ·

Gee vir ons meer sulke lekker stories. Dit skop die covid statistieke se gat… :-)

Kiewiet ·

Agh ekt die video so geniet daardie pa lag omtrent te lekker…

Patch ·

Ah, ek het nou lekker gelag. Dankie MM vir die plasing hiervan. Meer van hierdie soort plasings sal fantasties wees.

Frank ·

Sy het definitief haar pa gevang vir `n sakker. As hy maar geweet het……..

Benita ·

Kyk ek het nou so lekker gelag. Pragtige verhouding tussen pa en dogter.

SlinkseKoljander ·

Moet maar dalk die gewig bietjie dophou daar julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.