Dokters boos oor nuwe stelsel vir oortydbetaling  

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Hush Naidoo Jade/Unsplash)

In ʼn desperate poging om uitgawes te sny het die Gautengse en Oos-Kaapse departemente van gesondheid nou aangekondig die manier waarop dokters se oortydbetaling goedgekeur word, sal hersien word.

Dit sal grootliks behels dat provinsiale departemente, eerder as hospitaalbestuur, nou verantwoordelik is vir die goedkeuring van oortydbetalings. Betaling vir oortyd sal ook nie meer saam met ʼn dokter se salaris oorbetaal word nie, maar sal eers geëis kan word nadat oortydwerk voltooi is.

Dit sal vanaf 1 April, die aanvang van die nuwe boekjaar, geld.

Dokters is egter bekommerd dat administratiewe rompslomp wat hiermee gepaardgaan, tot gevolg sal hê dat oortyd laat betaal, of glad nie uitbetaal word nie.

In ʼn omsendbrief wat vroeër die maand deur die Gautengse departement uitgestuur is, sê die departement die besluit is genoodsaak deur uitdagings oor die jare, wat verband hou met die bestuur en uitvoer van oortydskofte. “Dit het tot gevolg gehad dat die departement oorbestee het wat betref die begroting vir oortyd betaling.”

Die departement sê hy is besig om die huidige beleid en prosesse te hersien. Met soveel as ʼn derde van dokters se salarisse wat vir oortydwerk is, kan hierdie ʼn massiewe impak op dokters se inkomste hê.

Pasiënte wag in die ongevalle-eenheid by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg. (Foto: Tania Heyns)

Peirro Marx van Solidariteit se doktersnetwerk sê dit is weer eens ʼn voorbeeld van die staat wat alle mag wil sentraliseer, maar waarskynlik nie die hulpbronne en insig het om dit effektief te kan uitvoer nie. “Die persoon wat nou die besluit oor oortydbetaling moet neem, is ver verwyderd van die instelling en het nie ʼn idee wat die behoefte op grondvlak is nie.”

Hy sê dokters is boonop glad nie gekonsulteer voordat die besluit gemaak is nie. “Die proses en beleid moet nog gefinaliseer word en daar heers groot onsekerheid oor hoe dit gaan werk en of dokters wel hulle geld gaan kry.”

Volgens Marx is daar ʼn geweldige tekort aan dokters in staatshospitale en dokters werk konstant oortyd, soveel so dat oortydbetaling sowat ʼn derde van hul salarisse uitmaak.

“Die departement maak nou misbruik van dokters se professionele en etiese ingesteldheid. “Bitter min dokters gaan pasiënte wegwys, al word hulle nie betaal om oortyd te werk nie. Dokters gaan dus nou langer ure werk sonder om daarvoor vergoed te word.”

In ʼn omsendbrief aan dokters sê die Oos-Kaapse regering dat oortydbetaling nie meer as herhaalde uitgawe betaal sal word nie, maar van maand tot maand aangeteken word. Luidens dié brief is oortyd nie verpligtend nie, maar word die noodsaaklikheid daarvan deur die betrokke instelling bepaal, deur ʼn analise van die beskikbare hulpbronne. In die Oos-Kaap se geval moet kliniese bestuurders op die sewende van elke maand bevestig dat die betrokke dokter wel oortyd gewerk het, en die nodige vorms aan menslike hulpbronne deurstuur. Dié moet seker maak dat die betrokke dokter wel die hoeveelheid ure oortyd gewerk het as waarvoor geëis word.

ʼn Dokter wat etlike jare al in die staatsdiens in die Oos-Kaap werk, het aan Maroela Media gesê dit is wel so dat baie dokters die stelsel misbruik. Hy wou nie sy naam noem nie, uit vrees vir vervolging. “Die meeste van ons teken ʼn kontrak met verpligte oortyd. Ons kry dieselfde salaris, wat oortyd insluit, maak nie saak hoeveel oortyd jy werk nie. Nie alle dokters werk egter gereeld oortyd nie, omdat van die departemente nie so baie noodgevalle hanteer nie. Van die dokters sal ook na ure uitgeroep word, maar sal pasiënte eers die volgende dag, in normale werksure, sien.”

Nietemin, sê hy, is dokters redelik ontevrede oor die besluit, omdat hulle reeds so min ondersteuning van die staat kry. “Ons salaris is een van die hoogtepunte van die beroep, omdat ons so ongelooflik hard werk. Hoewel die nuwe beleid nie heeltemal wegdoen met die oortydbetaling nie, gaan dit aansienlik meer administrasie verg, en ons almal weet die staat se administrasie laat veel te wense oor.”

Marx meen boonop nie dis redelik om die hele stelsel te verander, net omdat ʼn paar dokters dit misbruik nie. “Die departement moet eerder persone wat die stelsel misbruik, direk aanspreek as om alle dokters verantwoordbaar te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Papsak ·

Die regering wil alles oor vat en doen wat hulle dink goed is werk nie so nie daarom kry mense nie meer n goeie dokyer wat belangstel in mens nie want hulle word van hulle geld beroof !!!!!!

Bulkalf ·

Die klomp wat nie eens behoorlik engels verstaan in die staats hospitale, begin dan eers om 13:00 werk. Nou hou nou vra ek jou?

Bolandse Nooi ·

Wel, oortyd werk is nie verpligtend nie. As dit ek was, sou ek een maand werk soos wat dit tans werk, as ek nie my oortyd kry nie … wel, dan wérk ek geen oortyd meer nie!

es ·

Dis maklik, geen betaling geen oortyd werk nie, gaan huis toe na jou skof???

Niklaas ·

Ek hoop dit spoel ook oor na Telkom. My bure wil telkom lyne laat installeer. Dis net vreemd dat die 3 werkers slegs opdaag op Saterdag middae , natuurlik vir die oortyd geld.
Dit duur nou al 3 weke. Wat maak hulle in normale werksure in die week dan ? Dis tog so belaglik en niemand kan skynbaar enigiets doen daaromtrent nie.

Manie ·

Volgens die berig klink dit asof hulle reeds oortyd geld ontvang het alvorens dit verrig is.

Perdeby ·

Weier om oortyd te werk dis Baie eenvoudig dan kyk ons wat maak bestuur. As jou skof verby is gooi die pik in die lug! Dis mos hoe die staatsdiens werk!

Wicus ·

@Manie, nee dit beteken maar net dat jy met die nuwe proses aan die einde van die maand jou eis vir die maand se oortyd moet insit, dan gaan dit na die dept. toe, en van daar af weet mens nie lekker wat gaan gebeur nie. Tans word dit deur die hospitaal self bestuur en op hulle stelsel weet hulle watter Dr. het watter ure en oortyd ure gewerk en dit word automaties saam met jou maand se salaris betaal vir jou oortyd ure vir die maand.

Bolandse Nooi ·

@Niklaas, hier in Worcester sien jy dit gereeld – van munisipale vuillisverwyderingswerkers. Kom jy na 8 ure op kantoor (wat jou vuillis houer al buite jou hek staan) tuis, is die vuillis nog nie verwyder nie. Dan haal jy maar jou houer in, want staan hy oornag buite, is dit POOF weg! die volgende oggend. Halfnege, negeuur saans hoor jy: hier kom die vragmotor nóú aan … dan moet jy hol om jou vuillis houer weer uit te neem. Nou vra ek jou: wat doen hulle dan die hele dag as hulle saans die vuillis optel??? Dis net nog ‘n oneerlike manier om ekstra geld aan ‘oortyd’ te verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.