Donkie van eiland in Vaaldam gered

Die donkie was vier weke lank soek. (Foto: NSRI)

Nie net het lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) hul hande vol om mense dié feestyd veilig in die water te help hou nie, hulle het Sondag ook ʼn donkie uit die Vaaldam gered.

Jake Manten, stasiebevelvoerder van die NSRI-Vaaldam, sê bemanningslede se hulp is Sondagoggend ingeroep ná berigte dat ʼn donkie op ʼn eiland in dié dam in die omgewing van Deneysville gestrand is.

Die bemanning is uitgestuur om ondersoek in te stel en het die donkie – wat reeds sowat vier weke gelede op die eiland gestrand geraak het toe die watervlak veel laer was – daar aangetref. Die dier kon nie na die oewer oorsteek nadat die watervlak gestyg het nie.

Die hulp van ʼn plaaslike veearts is ontbied en die dokter is na die donkie op die eiland geneem waar hy bevestig het dat die dier gespanne en ondervoed is.

ʼn Boot en spesiale draagbaar is na die toneel gebring, die donkie is verdoof om hom te kalmeer en daarna op die draagbaar gelaai en versigtig in die boot getel.

Die dier is na die oewer gebring en met sy eienaars herenig.

Manten sê die donkie se eienaars versorg hom baie goed en hulle was oorstelp van vreugde om die dier ná vier weke terug te vind.

Die NSRI het Donderdag ook ʼn aasvoël gered wat in hiasinte op Hartbeespoortdam in Noordwes verstrengel geraak het. Die voël is uit vislyn losgesny en uit die hiasinte bevry, maar toe hy wou wegvlieg was hy moontlik te uitgeput en het hy in die water beland en gedryf.

Reddingswemmers het die voël na die oewer gelok, waarna die plaaslike aasvoëlbewaringsorganisasie Vulco ontbied is.

Natuurbewaarders het die aasvoël in hul sorg geneem en sal hom voorberei vir rehabilitasie. Die voël is sowat vier maande oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.