‘Doodsdreigemente’ ná bloulig-voorval

Skermgreep uit die video op Twitter.

ʼn Lid van die publiek is glo met die dood gedreig ná hy ʼn video van die onlangse bloulig-aanrandingsvoorval op die N1 op sosiale media gedeel het.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het aan Maroela Media bevestig ʼn lid van die publiek het hulle genader. “Hy was nie self betrokke by die voorval nie, maar het ʼn video van die voorval op sosiale media versprei. Hy was nie die enigste persoon wat die video versprei het nie, maar sy plasing was baie gewild.”

Volgens Broodryk het die persoon daarna boodskappe gekry dat hy “vyande gemaak het” en dat daar met hom “afgereken sal word”.

Broodryk kon nie bevestig wie die boodskappe gestuur het nie, en wou ook nie daaroor bespiegel nie.

“Ons sal die persoon bystaan met regshulp indien hy dit nodig het en hom ook help om ʼn klag aanhangig te maak.”

Daar kan in die video van die voorval gesien word hoe beamptes van die polisie se BBP-beskermingsdienste drie insittendes uit ʼn Volkswagen Polo langs die snelweg pluk voordat dié mans herhaaldelik geskop word. Die polisiebeamptes spring dan terug in hul BMW X5-voertuie en jaag weg.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die saak is onder hul aandag gebring. “Ons ondersoek die doodsdreigemente en wie die boodskappe aan die persoon gestuur het. Ons lede was reeds in kontak met die persoon en het hom aangemoedig om ʼn formele saak te open.”

ActionSA voer aan adjunkpres. Paul Mashatile was teenwoordig toe lede van sy BBP-beskermingseenheid die drie Suid-Afrikaners aangeval het. “Daar is verskeie berigte dat die eenheid hom huis toe geneem het toe die voorval gebeur het. Volgens gerugte het die BBP-eenheid die Suid-Afrikaners aangerand toe hulle te naby aan die adjunkpresident se voertuig gery het. Dit ondersteun ActionSA se vermoedens dat die beamptes deur Mashatile se mafia-agtige leierskap beïnvloed is om swaarhandig op te tree.”

Maroela Media wag op terugvoer van Mashatile se woordvoerder.

Al agt lede van die eenheid het intussen briewe van moontlike skorsing ontvang. Die polisiebeamptes is ook sedertdien uit hul poste onttrek en sal kantoorgebonde wees hangende die uitkoms van ʼn dissiplinêre ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig ʼn generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) het na bewering die slagoffers van die voorval, almal lede van die weermag, glo opdrag gegee om nie met die media te praat nie.

Adv. Pikkie Greeff, sekretaris van die weermagvakbond Sandu, sê die vakbond is in gesprek met die weermag om alle betrokke inligting te bekom en die volledige prentjie te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Yvonne ·

Nou hoe nou eers was die vise president nie in die voertuig nie….nou was hy daar????..verstom staan ek alweer

Laksman ·

Maak geen verskil aan die optrede nie….speel saam om te cover. As hy wel daar was sou albei voertuie nie stilhou nie……was nie eers nodig vir 1 om stil te hou nie………..waarom is hulle nog nie agter tralies nie!?!?!?!

Harley Davidson ·

Dit is omrede hulle verhewe bo die reg is as enige persoon so iets gedoen het was hy gearesteer en voor ‘n hof gedaag,die klomp word intern ondersoek, wat ‘n grap hierdie was ‘n kriminele oortreding so hoekom word dit nie so hanteer nie.

Miena ·

Ja Nee… gegoede woorde ontgaan my nou so ek sal liewer net hier stilbly.

christo ·

Genl. Wally Rhoode, hoof van die BBP beskermingseenheid, moes al lankal geskors en afgedank gewees het. Eers was dit die Phala Phala verleentheid, die gemors met Rhamaphosa se besoek aan Oekraïne met wapenpermitte (waar hy die rassekaart probeer speel het) en nou hierdie aanranding wat plaasgevind het. Wanbestuur op sy ergste!
Waar is Bheki Cele nou, of kruip hy onder sy hoed weg? Of word hy deur Ramaphosa beskerm omdat daar nóg geraamtes in die President se kas is?

etienne ·

Nou was Mashatile ook op die toneel, waarom word net die 8 BBP lede geskors, en nie Mashatile ook nie CR. En bygese, die GROOT mafia baas, Cele, is doodstil.

Johan Tredoux ·

Miskien het die “slagoffers” hulle n “Gauteng salute” gewys of selfs aggressief en roekeloos opgetree. Maar ons sien die einde van die situasie en met die hulp van die media maak ons ons afleidings.

Tsek! ·

Kyk maar net hoe hierdie ou saakie gaan verdwyn. Hulle gaan buite die hof skik en dit gaan net aanhou gebeur. Daar is te veel op die spel.

Pieter ·

lol dis darem maar snaaks dat die staat nie eers die staat vertrou nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.