Dorpe sonder water, selfs ná hofbevel  

Lichtenburg. (Argieffoto: ANA)

Amper ʼn maand ná die uitreiking van ʼn hofbevel wat die Ditsobotla-munisipaliteit dwing om watertoevoer na Lichtenburg en Coligny te verseker, het hierdie dorpe steeds nie ʼn betroubare toevoer van water nie.

Sakeliga het hom gevolglik wéér tot die hof gewend om te verseker die munisipaliteit gehoorsaam die hofbevel.

Luidens die hofbevel op 13 Oktober moes die munisipaliteit water binne 24 tot 48 uur “ooreenkomstig die behoeftes van die gemeenskap” voorsien en die administrateur moet binne 15 dae aan die hof verslag lewer oor die herstel van die watertoevoer.

“In die lig van die regering se versuim om die watertoevoer na behore te herstel, sal Sakeliga vra dat lede van die gemeenskap ongehinderd mag ingryp om self die watertoevoer te herstel, op die regering se onkoste,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

Deel B van dieselfde aansoek, waarin gevra word vir verdere ingryping en regshulp, sou Donderdag aangehoor word. Dit moes egter uitgestel word om die plaaslike regering tyd te gee om te verduidelik waarom hulle nog nie aan deel A van die aansoek gehoor gegee het nie.

Volgens Le Roux het die regter die hof Donderdag verdaag sodat die regering se onderskeie regspanne eenstemmigheid kon bereik onder mekaar oor hoe die regering hul nie-voldoening aan die Deel A-bevel aan die hof kon verduidelik, en watter moontlike ooreenkoms met Sakeliga gemaak kon word.

“Die regering het ook sy antwoordende verklaring ten opsigte van die Deel B-aansoek ʼn dag voor die verhoor op Sakeliga se regspan beteken, wat beteken dat ons nie geleentheid gehad het om die verklaring te oorweeg of om by wyse van repliserende verklaring daarop te reageer nie,” sê hy.

Die saak sal nou op 18 November aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.