Drankbedryf verwelkom verslapte regulasies

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Maandagaand dat die algehele verbod op die verkoop van alkohol gedeeltelik opgehef word, verwelkom.

Ramaphosa het aangekondig dat:

  • Gelisensieerde instellings alkohol vir verbruik weg van die perseel Maandag tot Donderdag tussen 10:00 – 18:00 mag verkoop;
  • Aksynsvrye winkels, geregistreerde wynmakerye, wynplase, klein brouerye en klein distilleerders alkohol mag verkoop vir verbruik weg van die perseel tydens hul normale gelisensieerde bedryfsure; en
  • Die verkope van alkohol deur gelisensieerde instellings vir verbruik op die perseel (soos restaurante en kroeë) deur die week tussen 10:00 en 22:00 toegelaat word.

Die aandklokreël is ook verder verslap en geld nou van 23:00 – 04:00. Ondernemings moet dus om 22:00 sluit om hul klante en personeel kans te gee om teen 23:00 tuis te wees.

Die regulasies is reeds in die Staatskoerant afgekondig en is van Dinsdag van krag.

Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba), sê die ses weke lange verbod het die bedryf reeds op sy knieë gedwing en die jongste aankondiging is geen vinnige herstelplan vir langtermynoorlewing nie.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê die bedryf, een van die land se oudste en mees noemenswaardige, het ongelooflik weens die afsonderingsregulasies gely – en vir sommige kleiner ondernemings is dit reeds te laat.

“Vanjaar se wynoes is onderweg en die noodsaak om verkope vir ons bestaande wynvoorraad te skep is selfs belangriker as ons die toekoms wil beskerm. Ons gaan voort om ʼn beroep op verbruikers te doen om verantwoordelik te drink,” het Basson gesê.

Die bedryf sê die derde verbodsbepaling wat Ramaphosa op 28 Desember ingestel het, het die bedryf verpletter en sy langtermynoorlewing in die gedrang gebring. Dit het ook tot talle werksverliese en ʼn beduidende toename in onwettige handel gelei.

Volgens die bedryf het sy bydrae tot aksynsbelastings meer as 28% gedaal, van R47 miljard in 2019-’20, tot R34 miljard in 2020-’21. Dié R13 miljard-verlies in belastinginkomste kon help betaal het vir die aankoop van entstof en die inwerkingstelling van maatreëls om die uitwerking van Covid-19 te verminder.

Die bedryf vra ook vir samewerkende en deursigtige beraadslaging met die regering oor die pad vorentoe en eis dringende en gereelde hersiening van voortgesette beperkings terwyl die situasie verbeter.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) het ook die verslapte regulasies verwelkom.

(Argieffoto: pixabay)

Dit sluit in die heropening van strande.

“Die lang aandklokreël en verbod op alkohol, die beperking op getalle en die sluit van groot toeristeaantreklikhede – ook strande – het beteken dit was vir sommige ondernemings bloot nie meer lewensvatbaar om sake te doen nie. Dit het gelei tot die sluiting van soveel ondernemings in die gasvryheidsbedryf,” het Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa, gesê.

Sy sê die heropening van strande is ook goeie nuus vir die akkommodasie- en restaurantbedryf in kusgebiede, hoewel talle die gewoonlik besige feestyd weens die regulasies nie kon benut nie.

“Ons hoop dat Suid-Afrikaners die gasvryheidsbedryf sal ondersteun omdat hulle weet hoeveel mense se inkomste daarvan afhang. Ons vertrou dat hulle dit verantwoordelik sal doen, sodat hul ondersteuning die lewensaar is waarvoor so baie gasvryheidsondernemings desperaat gewag het,” het Anderson gesê.

Sy sê die gasvryheidsbedryf gaan nie nog ʼn verbod oorleef nie en vra dat die entstof so gou moontlik landwyd versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Prontuit ·

ek sweer hulle syfers/inligting is nie reg nie – hulle se gevalle daal maar dit wat ek om my beleef en sien gebeur stem nie ooreen nie! ek is baie bly vir die mense wat nou weer kan werk maar hierdie daling is beslis nie die waarheid nie

Chris ·

Chris Noordkus Ek het lus en klink ‘n glas op hierdie wel deurdagte besluit mag daar nog vele sulke wyse besluite wees.

Heinrich ·

Sal sien hoe lank hierdie hou, totdat Cele se vriende weer chaos maak omdat hulle dronk is dan word ons almal weer gestraf…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.