Covid-19: Regulasies word effe verslap

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: PresidencyZA/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand aangekondig dat die afsonderingsregulasies onder koronavirusvlak 3 effe verslap word.

Hy het gesê dit is te danke aan ʼn duidelike afname in gevalle, ʼn afname in hospitaal-opnames en ʼn afname in sterftes.

Daar is egter steeds ʼn hoë oordragkoers en daarom bly die land op vlak 3 van die afsonderingsregulasies.

  • Die aandklokreël sal van 23:00 – 04:00 van krag wees. Ondernemings sal dus reeds om 22:00 moet sluit om hul klante en personeel die kans te bied om teen 23:00 terug te wees by die huis.
  • Godsdienstige byeenkomste word toegelaat, onderworpe aan gesondheidsprotokol. Tydens dié byeenkomste word ʼn maksimum van 50 persone binnenshuis en 100 persone buite toegelaat. Waar die venue te klein is om dié getalle te hanteer, word ʼn maksimum van 50% kapasiteit toegelaat.
  • Strande, damme, riviere, parke en openbare swembaddens word weer oopgemaak, onderworpe aan gesondheidsprotokol.
  • Die beperkings op die verkope van alkohol word ook verlig:
    • Alkohol mag deur gelisensieerde instellings verkoop word vir verbruik weg van die perseel op Maandag tot Donderdag, vanaf 10:00 – 18:00.
    • Aksynsvrye winkels, geregistreerde wynmakerye, wynplase, klein brouerye en klein distilleerders mag alkohol verkoop vir verbruik weg van die perseel tydens hul normale gelisensieerde bedryfsure.
    • Die verkope van alkohol deur gelisensieerde instellings vir verbruik op die perseel (soos restaurante en kroeë) word deur die week toegelaat vanaf 10:00 – 22:00.

Die volgende beperkings bly egter van krag:

  • Sosiale byeenkomste, politieke byeenkomste, tradisionele raadsvergaderings en byeenkomste op sportgronde word steeds nie toegelaat nie. (Godsdienstige byeenkomste, begrafnisse en ander beperkte uitsonderings soos uiteengesit in die riglyne, byvoorbeeld restaurante, museums en gimnasiums, is nie hierby ingesluit nie.)
  • ʼn Maksimum van 50 persone mag ʼn begrafnis bywoon en sosiale distansiëring moet toegepas word, hande moet ontsmet word en maskers moet gedra word.
  • Dit bly verpligtend vir elke persoon om ʼn masker te dra in ʼn openbare ruimte.

Entstofprogram

 Ramaphosa het gesê hy het vandag saam met adjunkpresident David Mabuza, gesondheidsminister Zweli Mkhize, waarnemende minister in die presidensie Khumbudzo Ntshaveni die eerste besending Covid-19-entstof in ontvangs geneem.

Een miljoen dosisse van die entstof, wat deur AstraZeneca en die Oxford-universiteit ontwikkel is, het vanmiddag by OR Tambo-lughawe aangekom.

Dié besending sal nou by die nasionale beheerlaboratorium getoets word om te bevestig dat die integriteit behoue gebly het tydens die reis. Die entstof sal daarna reg oor die land na duisende gesondheidsorgwerkers versprei word as deel van fase 1 van die regering se entstofprogram. Provinsiale gesondheidsdepartemente het hul verspreidingsplanne ingedien en sowat 200 fasiliteite is geïdentifiseer waarheen dié dosisse versend sal word.

Sodra die gesondheidsorgwerkers ingeënt is, sal die regering begin met fase 2 van sy nasionale inentingstrategie waar noodsaaklike werkers, persone ouer as 60, persone met komorbiditeite en diegene wat in plekke soos aftreeoorde woon, toegang sal kry tot die entstof.

Tydens fase 3 sal die res van die volwasse bevolking die kans kry om ingeënt te word.

Die president het gesê die departement van gesondheid het ʼn elektroniese inentingsdatastelsel ontwikkel om die registrasie en inentingsproses te vergemaklik. “Die stelsel laat jou toe om ʼn afspraak te maak by ʼn sentrum naby aan jou, sodra jy vir die inenting kwalifiseer. Die stelsel sal ook rekord hou van inentings soos wat dit toegepas word.”

  • Buiten die 1 miljoen Covidshield-dosisse wat die land vandag ontvang het, word ʼn verdere 500 000 dosisse van die Serum-instituut in Indië later vandeesmaand verwag.
  • Altesaam 12 miljoen dosisse sal van die wêreldwye Covax-fasiliteit van die Wêreldgesondheidsorganisasie bekom word. Sowat 2 miljoen van dié dosisse sal na verwagting in Maart in die land aankom.
  • Altesaam 9 miljoen dosisse sal van Johnson & Johnson bekom word en die aflewering sal in die tweede kwartaal geskied. Johnson & Johnson het ook ʼn ooreenkoms aangegaan met Aspen, een van ons land se farmaseutiese maatskappye, om die entstof in Suid-Afrika te vervaardig.
  • Pfizer het ook homself verbind tot 20 miljoen dosisse en begin in die tweede kwartaal van die jaar met aflewering.

Die president het gesê die land se onderhandelings met vervaardigers om bykomende dosisse te bekom is in ʼn gevorderde stadium.

Suid-Afrika sal ook ʼn getal dosisse deur die Afrika-Unie ontvang, wat met vervaardigers onderhandel het om entstof vir die kontinent te bekom. Deur die Afrika- entstofaanskaffingstaakspan van die AU is een miljard dosisse reeds vir die kontinent verseker. Sewehonderd miljoen van dié dosisse sal van Covax bekom word en 300 miljoen van die taakspan.

MTN het ʼn skenking van $25 miljoen gemaak om 7 miljoen dosisse entstof aan te skaf en dit sal binne die volgende paar weke beskikbaar gemaak word aan verskeie Afrika-lande.

Die president het gesê dit is belangrik om kennis te neem dat niemand gedwing sal word om ingeënt te word nie. “Niemand sal verhoed word om te reis, om by ʼn skool in te skryf of om aan enige openbare aktiwiteit deel te neem as jy nie ingeënt is nie. Niemand sal teen sy wil ingeënt word nie en die inentings sal ook nie in die geheim plaasvind nie. Enige soortgelyke gerugte is vals en gevaarlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Die Wolf ·

Klink vir my daar is n bekommenis te bespeur vir moontlike betogings.

SjN ·

Hoekom het hy nie tydens sy goeie nuus aankondiging sommer ook die Bulle geluk gewens met die oorwinning nie.

Hennie J ·

Het hulle regtig gewen of het hulle net meer huursoldate in die span gehad?

Androclus ·

Rugby is vir alle nasies en volke maak nie saak watter ras nie hou net op met transformasie

JohanR ·

Die Bulle het ‘n beker gewen? CR het seker belangrike sake gehad! Hy kon miskien die wenner van Saterdag aand se Lotto ook geluk gewens het.

Hennie J ·

Dit staan soos n paal bo water dat die anc nie die burgerlike opstand op die Kaapse strande verwag het nie en dat dit hulle bekommer. Vinnige backpedal to save face. Wonder waar gaan hoedman nou witmense boelie—-seker in restaurante sodat hy n gratis steak kan score!

Dirk Mostert ·

In hierdie era waar aseksualiteit die nuwe normaal is, kan Cele se persone-in-uniform hulle nou op die strande toespits op tipering-oortredings (a la die Windhoek-advertensie) soos bostuklose biologiese manspersone.

Persheks Adri ·

Alles goed en gaaf. Ek wil ‘n vraag vra sonder dat almal my stenig: hy’t niks van die skole gesê nie, so wag ons nog om vir seker te weet dat skole wel 15 Februarie gaan begin? Ek weet daar’s ‘n berig dat Gauteng reg is, maar Cyril het niks van skole gesê nie…

johan ·

Tavernes word weer oopgestel tot 22:00 . Verstaan dit glad nie want dit is waar die groot hoeveelheid mense saaamdrom en alle regulasies verbreek word. Is maar seker bang vir sy eie mense. Kyk nou mooi nie lank nie dan word die drankhandel weer verbied. Hoekom nie net die drank weg van perseel oopmaak sodat almal by hul huis kan gaan drink nie,dan is die saamdrom van mense meeste uitgeskakel.

Francois Le Cochon ·

Die probleem met drank is nie die verspeiding van die virus nie, dit ook ja, maar die druk wat dit op hospitale plaas. Ongevalle agv drankmisbruik gebeur ook in huise. Nie almal drink net ‘n bier of ‘n glasie wyn soos ek en jy, sommiges drink ‘n 6-pak gevolg deur ‘n paar shooters en dan ‘n volle bottel of twee brandewyn. Dan word die vrou en kinders aangerand.

ans ·

Stem 100% saam, dit is waar die grootste probleem is! Teen daardie tyd van aand is hulle dan so
“gekuier” dat hulle in elk geval nie meer omgee wat hulle doen nie, net reg om met almal ‘n lekker stryery op te tel en sommer met die mes of stukkende bottel by te kom en dan moet hulle ook nog by die huis kom! Maar nou ja, wat help kammigge vasgestelde ure nou ook, ‘n shebeen is mos 24/7 oop,
al was daar ook ‘n verbod op die verkoop van alkohol!

Dirk Mostert ·

Is dit nie merkwaardig nie dat wereldwyd neem covid-infeksies en sterftes nou af. Dit het begin ‘n dag na Biden se inhuldiging as president van die VSA. Dit word ook nou in wetenskaplike kringe erken dat die toetsprosedure hipersensitief was. Verwag dat die verhouding infeksies:toetse gaan daal.

JohanR ·

CR Maandag aand 01/02/2021 – alcohol sales will be allowed again. NDZ Dinsdag aand 02/02/2021 – alcohol will NOT be sold again! Bheki Cele 03/02/2021 – gryp hulle ouens, slaan hulle ouens, verjaag hulle ouens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.