Drankhandelaarsvereniging pleit vir opheffing van drankverbod

(Argieffoto: Unsplash)

Die Drankhandelaarsvereniging van Suid-Afrika (LTASA) het Vrydag ’n brief aan die regering gerig waarin daar versoek word dat die verbod op die verkoop van alkohol op 15 Januarie opgehef word aangesien drankwinkels sukkel om kop bo water te hou.

Die vereniging vra ook dat die regering finansiële hulp aan onafhanklike drankwinkels verleen wat gebuk gaan onder nóg ’n drankverbod.

LTASA se lede bedryf meer as 1 400 drankwinkels oor die hele land met meer as 14 000 werknemers in diens.

Luidens die brief het baie van sy lede reeds aangedui dat hulle nie in staat gaan wees om hul werknemers se volle salarisse aan die einde van vandeesmaand te betaal nie.

Baie lede kan ook nie meer bekostig om hul huur te betaal nie. ’n Geldige huurkontrak is nodig om ’n dranklisensie te behou.

Drankwinkels se voorraad is aan’t verval aangesien hulle nie tyd gegun is om vooraf reëlings rakende hul voorraad te tref nie. Om sake te vererger, is daar reeds by verskeie lede se drankwinkels ingebreek te midde van die verbod.

(Foto: Henk Kruger/ANA)

“Ons lede voel die ernstige ekonomiese trefslag aangesien hul ondernemings vir 100 dae gesluit was gedurende die drankverbod wat reeds twee keer vantevore ingestel is. Met geen inkomste gedurende hierdie tydperk, die deurlopende uitgawes en verpligtinge van salarisse, huur, versekering, sekuriteit, IT-koste en finansieringskoste het die verbod verlammende skade aangerig aan hul kontantvloei, spaargeld en reserwes.

“Nog ’n tydperk sonder inkomste, met lopende uitgawes en voorraad wat verval, sal verlammende skade aan hul kontantvloei tot gevolg hê en baie winkels is op die punt om te sluit.

“Hierdie winkels is afhanklik van die verkoop van drank vir hul oorlewing,” pleit LTASA.

Die vereniging wys verder daarop dat ’n beduidende aantal werknemers noodgedwonge afgelê sal moet word indien drankwinkels nie binnekort weer hul deure oopmaak nie.

“Baie van hierdie werknemers is ongeskool of halfvaardig en sal moeilik werk kry sodra hulle afgelê word. Die uitwerking hiervan op hulle, hul gesinne en ons breër ekonomie sal verwoestend wees en tot geweldige swaarkry en lyding lei.”

LTASA vra in die brief dat die regering finansiële hulp aan drankwinkels verleen. Dit sluit in hulp met salarisse deur middel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Ters), vergoeding vir voorraad wat verval en huurkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.