Drie Gautengse leerders sterf in ’n week

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Gautengse departement van onderwys moes vandeesweek nie minder nie as drie leerders aan die dood afstaan.

Dit sluit in ’n agtjarige seun aan die Escaleni-skool vir leerders met spesiale behoeftes in Tembisa wat Vrydag dood is nadat hy die vorige Vrydag ná skool sy bewussyn in ’n bus op pad huis toe verloor het.

Volgens die departement het daar bloed uit sy mond geloop.

Die busbestuurder het inderhaas noodhulp op die seun toegepas voordat hy hom huis toe geneem het. Die seun se toestand het egter die daaropvolgende dae versleg en hy is Woensdag in ’n hospitaal opgeneem.

Die departement is Vrydag meegedeel dat hy intussen dood is. Die presiese oorsaak van sy dood is nie bekend nie.

Die Bopasenatla Sekondêre Skool in Soweto het óók Vrydag laat weet dat ’n graad 10-leerder aan dié skool in ’n bus op pad huis toe dood is. Leerders het in dié geval die busbestuurder in kennis gestel en dié het met die leerder na ’n nabygeleë kliniek gehaas.

Die skoolmeisie is egter met haar aankoms by die kliniek dood verklaar. Die omstandighede rakende haar dood word ondersoek.

Die derde sterfte is deur die Buhlebuzile Secondary School in Thokoza aangemeld waar ’n graad 10-leerder Donderdag in ’n klas inmekaargesak het. Die polisie ondersoek tans die omstandighede rakende dié voorval.

Matome Chiloane, Gautengse LUR vir onderwys, het intussen aanbeveel dat die departement ’n onafhanklike regsfirma aanstel om die omstandighede rakende dié leerder se dood te ondersoek.

“Die ondersoek sal die departement help om dienooreenkomstig beslissende stappe te doen,” sê die departement in ’n verklaring.

Die departement sal ook beraders na elkeen van die drie skole stuur om geraakte leerders in die moeilike tyd by te staan voordat die LUR die skole Maandag sal besoek.

“Ons is diep hartseer om die nuus oor hierdie leerders se afsterwe te ontvang. Ons betuig ons innige meegevoel met die families van ons geliefde leerders en die skoolgemeenskappe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.