Drie in Phala Phala-saak Vrydag in hof

Die drie verdagtes in die Phala Phala-diefstalsaak verskyn Vrydag weer in die hof. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die drie verdagtes wat in verband met die diefstal van duisende dollars op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas in hegtenis geneem is, verskyn na verwagting Vrydagoggend in die landdroshof op Bela-Bela.

Die straat voor die landdroshof was vroegoggend reeds gesluit en ʼn polisie-njala en ʼn handvol polisiebeamptes het ʼn wakende oog oor die hof gehou.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag aan Maroela Media gesê borgtog sal na verwagting wel aan Frolina Joseph (31) en haar broer, Ndilinasho David Joseph (27), toegestaan word.

Die twee het hul borgtogaansoek verlede Vrydag ingedien en onder meer aangevoer dit sal in die belang van geregtigheid wees dat hulle op borgtog vrygelaat word.

Malabi-Dzhangi kon nie bevestig of die derde verdagte, Imanuwela David (39), wel vandag sal voortgaan met sy borgtogaansoek nie.

Hy staan saam met Frolina en haar broer tereg op aanklagte van sameswering om huisbraak te pleeg, huisbraak, geldwassery en diefstal.

Polisiebeamptes het Vrydag ‘n wakende oog by die hof gehou. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Tydens hul vorige hofverskyning het Frolina en Ndilinasho albei in hul eedsverklarings aangedui dat, sou die staat voortgaan met die saak teen hulle, hulle van plan is om onskuldig te pleit op al die aanklagte teen hulle.

Die klagte teen hulle hou verband met die inbraak op Ramaphosa se wildplaas in Februarie 2020 waartydens $580 000 – wat in ʼn rusbank versteek was – gesteel is.

Volgens die staat het die twee na bewering op 8 Februarie verkeerdelik saam met nog twee verdagtes op ʼn ander plaas ingebreek, maar niks gesteel nie omdat dit die verkeerde plaas was. Dit is eers die dag daarna dat hulle glo by die president se plaas ingebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wondermaarnet ·

Die saak gaan nog 20 jaar sloer en uiteindelik gaan dit ‘n stille dood sterf.

Wondermaarnet ·

Moet wees, want hoe het hulle geweet om in die sofa te soek na geld?

Anel ·

Hoekom was daar in elke geval soveel daar en buitelandse valuta? Hoe het dit die land binne gekom? Dit moes mos iewers verklaar geeees het? Net die feit dat dit weggesteek was sê al klaar baie. Kan nie verstaan die kastige president onskuldig kan wees nie! En is daar ooit belasting op al die geld betaal? Wonder elke keer daaroor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.