Drie op R21 doodgeskiet

(Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Drie verdagtes is Woensdagoggend tydens ’n jaagtog op die R21 doodgeskiet kort nadat hulle na bewering ’n winkelsentrum naby Carnival City aan die Oos-Rand beroof het.

Twee ander vermeende rowers is vanoggend tydens die skietery naby Olifantsfontein kritiek gewond toe ’n multidissiplinêre span van wetstoepassers hulle agternagesit en dit in ’n jaagtog op die R21-hoofweg ontaard het.

Daar word vermoed dat die groep met verskeie ander sakerooftogte verbind kan word, sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke.

Die Valke en ander wetstoepassingsowerhede het vanoggend reageer op inligting rakende ’n groep rowers wat betrokke is by die roof van winkelsentrums, koeriers en ander ernstige geweldsmisdade.

Die groep het in daardie stadium pas die sekerheidswagte van die winkelsentrum oorrompel en owerhede is aangesê om op die uitkyk te wees vir ’n silwer Volkswagen Touareg en ’n blou BMW wat glo by die rooftog betrokke was.

Die Touareg is kort daarna op die R21 noordwaarts opgemerk en ’n span is ontplooi om die voertuie voor te keer.

Die verdagtes het egter die owerhede met hul aankoms probeer ontduik en dit het in ’n hoëspoedjaagtog ontaard.

Mogale sê die verdagtes het tydens die jaagtog op wetstoepassingsbeamptes losgebrand. Die beamptes het teruggeskiet en die verdagtes het teen ’n versperring gebots.

Drie verdagtes is noodlottig gewond en op die toneel dood verklaar. Twee ander is in ’n kritieke toestand hospitaal toe geneem vir mediese behandeling.

Drie ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en voorraad is in die Touareg gevind. ’n Voorlopige ondersoek het intussen daarop gedui dat dié voertuig in Januarie as gesteel by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria aangemeld is.

Een van die vuurwapens is vermoedelik ook gesteel.

Die blou BMW is sedertdien onderweg na Mamelodi deur die polisie in Tshwane se honde-eenheid voorgekeer en vier verdagtes is in hegtenis geneem. Polisiebeamptes het intussen die verdagtes se huise besoek en op nog gesteelde voorraad en drie voertuie beslag gelê.

Die oorlewende verdagtes sal almal binnekort in die hof verskyn vir poging tot moord, besit van vermoedelik gesteelde eiendom, gewapende roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.