Drie van GWK gevonnis oor geldwassery, korrupsie

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Drie gewese werknemers van Griekwaland-Wes Koöperatief Beperk (GWK) is Donderdag in ʼn hof vir ernstige handelsmisdade in Kimberley skuldig bevind en gevonnis op ses aanklagte van korrupsie en ses aanklagte van geldwassery.

George Wheeler (62), Johannes Lodewykus Kruger (62) en Rudolph Kemp (49) is in Junie 2021 met dagvaardings bedien deur die Valke se span in Kimberley wat ernstige korrupsie ondersoek.

Kapt. Tebogo Thebe, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê tussen 2014 en 2016 het die beskuldigdes met ʼn werknemer van AG Equipment Direct LLC saamgespan en pryse verhoog wanneer daar vir toerusting gekwoteer is.

“ʼn Ondersoek deur die Valke het bepaal dat die beskuldigdes GWK uit ʼn bedrag van R5 miljoen bedrieg het. Hulle het dit tussen mekaar verdeel.”

Die drie mans het skuld beken.

George Wheeler is sy pensioen ter waarde van R438 410,93 kwyt aan die batebeslagleggingseenheid. Hy moes ʼn bykomende R200 000 aan die eenheid oorbetaal.

Johannes Lodewykus Kruger het sy pensioen ter waarde van R833 195,34 ook aan die batebeslagleggingseenheid afgestaan. ʼn Bykomende R200 000 moet voor Desember 2023 oorbetaal word.

Rudolph Kemp is sy pensioen ter waarde van R531 269,36 kwyt en ʼn bykomende bedrag van R200 000 moet voor Desember aan die batebeslagleggingseenheid oorbetaal word.

Die drie is tronkstraf van 10 jaar opgelê wat in sy geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hulle sal drie jaar korrektiewe toesig uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Volgens finansiele wetgewing in plek is dit reg, net jammer dit word nie konsekwent toegepas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.