Drie vas ná Stellenbosch-plaasaanval

Raymond O’Grady (Foto: www.hillcrestberries.co.za)

Drie vermeende aanvallers is die afgelope naweek in hegtenis geneem in verband met die aanval op Raymond O’Grady en sy vrou, Betty, op hul plaas buite Stellenbosch. Raymond is die eienaar van die welbekende Hillcrest Berry Farm.

Mihlali Majikela, woordvoerder van die polisie, sê die drie verdagtes het Maandag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van huisroof, poging tot moord en ontvoering.

Majikela sê hulle sal na verwagting weer op 2 September in die hof verskyn. Hulle sal tot dan in aanhouding bly.

Maroela Media het vroeër berig die O’Grady-egpaar, wat in hul 70’s is, is Vrydag omstreeks 07:20 deur die drie verdagtes in hul huis oorval en aangerand.

Raymond is vyf keer tydens die aanval met ʼn mes gesteek. Hy is ná die aanval in ’n kritieke toestand na ’n hospitaal in Stellenbosch gehaas, waar hy in die intensiewesorgeenheid behandeling ontvang het.

Maroela Media het van ’n bron verneem dat hy intussen ontslaan is.

Betty is deur die verdagtes ontvoer, maar kon daarin slaag om weg te kom.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het vroeër gesê Betty is agter die stuurwiel van die egpaar se dubbelkajuit-Toyota-bakkie ingedwing en aangesê om te ry. Die aanvallers het klaarblyklik gedink hulle word agtervolg en het Betty opdrag gegee om stil te hou. Hulle het gevlug en Betty het dadelik teruggejaag plaas toe.

Müller sê hoewel Betty ongedeerd van die voorval afgekom het, was sy erg getraumatiseerd ná haar ontvoering.

Müller sê dit lyk asof daar slegs ’n selfoon gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Ek glo vas, as die herverkoop van selfone en skootrekenaars deur wetgewing in SA verbied word, sal daar baie moontlik ‘n verbetering in die misdaad syfer en aanvalle wees

Oom Hennie Pennie ·

Stem saam. Skraap die mark vir tyweedehandse selfone en rekenaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.