Drie vas ná vrou se moord op Wes-Kaapse plaas

Christine Walters (Foto: Christine Walters/Facebook)

Die liggaam van die 74-jarige Christine Walters is Saterdag ʼn ent van haar plaashuis in die Ceres-Karoo, Wes-Kaap, gekry nadat drie mans haar vroeër op die plaas aangeval het.

Die mans is reeds vasgetrek. Volgens die polisie is een van hulle ʼn voormalige plaaswerker op Walters se grond.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het een van die plaaswerkers, ʼn Somaliese burger, omstreeks 04:05 ʼn skoot naby die opstal op die plaas Papekuil gehoor klap. Hy het gaan ondersoek instel en drie verdagtes by die plaashuis gewaar.

“Hy [die plaaswerker] het na ʼn buurplaas gehardloop om hulp te kry. Die polisie is ook na die plaas ontbied,” sê Van Wyk.

“By die polisie se aankoms op die toneel het hulle Walters se liggaam sowat 60 meter van die plaashuis gekry. Langs haar het ʼn haelgeweer gelê en sy het ’n skietwond aan haar kop gehad. Haar hande was met staaldraad vasgebind en ʼn gordel was om haar nek vasgemaak.”

Inligting dui daarop dat Walters moontlik terugbaklei het toe die aanvallers haar oorrompel het. Sy is vermoedelik in die struweling raakgeskiet.

Die polisie het inligting opgevolg en die 48-jarige voormalige plaaswerker is later die dag (Saterdag) aangekeer. Die ander twee verdagtes, onderskeidelik 17 en 22 jaar oud, is ʼn dag later in hegtenis geneem.

“Die polisie se lugvleuel en honde-eenheid het gehelp om die verdagtes op te spoor.”

Die polisie het op drank en vuurwapens wat in Walters se plaashuis gebuit is, beslag gelê.

Die verdagtes sal vandeesweek in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Walters het saam met haar seun, Robin Wakeford, op die plaas gewoon. Wakeford was nie op die plaas ten tyde van die aanval nie.

Huldeblyke stroom in

Walters het verlede jaar afgetree nadat sy vantevore as ʼn beroepsgesondheidspraktisyn gewerk het. Sy het ná haar aftrede permanent op die plaas gaan woon.

Joan Visser, ʼn oudkollega en vriendin van Walters, beskryf Walters as ʼn vrou met “krag, vasberadenheid en grasie”.

“’n Klein vroutjie met ʼn groot teenwoordigheid. Haar sagte gees en glimlag kon die donkerste lug verlig. Haar hart was vol liefde, en sy het altyd haar beste gegee in enigiets wat sy aanpak. Sy het die wêreld met moed en deursettingsvermoë tegemoet gegaan en kon altyd ʼn silwer randjie vind in elke uitdaging wat sy moes aandurf,” het Visser aan Maroela Media gesê.

Oudkollega Sareen Kellerman sal Walters se “sagte, omgeehart en vriendelike glimlag onthou”, terwyl oudkollegas Hester Briel en Juandre Visser vir Walters geloof het vir haar jarelange en harde werk as beroepsgesondheidspraktisyn.

“Sy het ’n borrelende persoonlikheid gehad,” vertel Kellerman.

“Sy het dwarsdeur haar lewe opgestaan vir wat sy glo reg is en het nooit gewankel in haar verbintenis om die regte ding te doen nie. Sy was ʼn ware steunpilaar en het altyd haar man gestaan, ongeag die omstandighede.

“Haar onwrikbare integriteit en standvastigheid sal gemis word,” sê Briel.

“Deur haar loopbaan het sy haarself onvermoeid toegewy aan die skep van ʼn veilige en gesonde werksomgewing vir haar kliënte,” vertel Visser.

Frances Hendriks, ’n jarelange vriendin van Walters, vertel dat sy Walters se “glimlag sal onthou en die berekende manier waarop sy gepraat het”.

Hendriks en Walters het 43 jaar gelede ontmoet toe hulle saam by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Kaapstad, soos die instelling tans genoem word, studeer het.

“Jy het altyd gedink voor jy praat. Ek sal jou sagte hart en gasvryheid, jou eerlikheid onthou. Ons het nie altyd ʼn keuse in hoe ons sterf nie, maar ons het ʼn keuse in hoe ons lewe. Ek kan my voorstel dat jy in jou laaste minute dalk gemompel het: Vader vergewe hulle van hul korrupte verstand, want hulle weet nie wat hulle doen nie,” lui Hendriks se huldeblyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johanna ·

Ag daar Gaan NIE veel van Kom NIE. Oor paar maande is hul Los en word Soos helfte erken

Manie ·

Soos om die skurke aan die naaste boom te hang, dis positief.

Pieter9 ·

Hierdie land is op die rand van totale anargie… hoe lank nog?

Pieter ·

Hoe gouer hoe beter se ek, dat ons kan oor begin en n teokoms vir ons kinders kan bou

Aai ·

Pieter jy besef nie wat anargie is dit is die laaste ding op aarde wat jy vir jou gesin en medemens wil he.

Amelia ·

Verstaan niemand wil dit he nie maar is daar n og n keuse mense word uitgemoor en ons hande is afgekap ek voel ook al soos jy maar ja wat van klein kindertjies dis n moeilike setuasie

Harley Davidson ·

Plaaswerkers en aanvalle begin nou sinoniem met mekaar te raak ,dit is ‘n geïdentifiseerde probleem wat gaan die boere daaraan doen?Ek hoop hulle begin intensief te kyk n meganisering en die aanstel van goedgekeurde werkers met ‘n ” goeie track record “.

Leana ·

“Vader, red ons van hierdie korrupte mense, want hulle weet wat hulle doen.”

Ilze ·

Nog iemand, wat iets beteken het vir die samelewing weg gevat deur goed wat niks beteken nie. Ja ek sê goed want dis nie mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.