Drie vas vir moord op polisiesersant

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Drie jong mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn polisiesersant op Kersdag in Kliptown in Gauteng.

Maxwell Moiketsi Letsie (22), Ronald Ramasa (25) en Tshepo Nthobo (22) het reeds Dinsdag in die Protea-landdroshof verskyn. Die saak is nou tot 17 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel. Hulle bly intussen in aanhouding.

Sers. Mahlephe Philip Mahlaela is op 25 Desember oorval en sy liggaam is by ʼn spoorlynbrug naby die Marikana-plakkerskamp agterlaat. Hy het ʼn wond aan sy kop gehad en is vermoedelik met ʼn stomp voorwerp geslaan.

Sy voertuig het naby sy liggaam geparkeer gestaan en was oënskylik onaangeraak.

Kapt. Lloyd Ramovha, polisiewoordvoerder, sê Mahlaela het glo vir sy vrou gewag toe die wreedaardige voorval plaasgevind het.

Die Valke en polisie in Kliptown en Naledi – waar Mahlaela werksaam was – het die moord ondersoek en relevante leidrade opgevolg.

Dié leidrade het tot die inhegtenisneming van die verdagtes in Kliptown gelei.

Hulle word ook van die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie aangekla.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.