Drie vas wat glo diesel steel

(Foto: Verskaf)

Die polisie in Harrismith in die Vrystaat het Vrydagoggend drie verdagtes by Intabazwe naby die dorp in hegtenis geneem ná hulle met vermoedelik gesteelde diesel betrap is.

Ao. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die polisie was besig met hul normale misdaadvoorkomingsroetine toe hulle omstreeks 06:00 inligting ontvang het oor gesteelde diesel wat in Intabazwe naby die vliegveld versteek is.

“Die span het dadelik die inligting opgevolg wat tot die inhegtenisneming van drie verdagtes – wat in besit van vermoedelik gesteelde diesel gevind is – gelei het. Daar is op veertien 25 liter‑houers diesel en ʼn swart bakkie beslag gelê.”

Die verdagtes, onderskeidelik 28, 33 en 44 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Harrismith-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn.

“As polisie doen ons ʼn beroep op die vragmotorbestuurders om bewus te wees van mense wat brandstof van hul geparkeerde vragmotors steel of van die bestuurders wat langs die paaie stop en dieselfde brandstof aan diewe verkoop.

“Diefstal van brandstof is ʼn ernstige oortreding en sulke misdadigers sal dienooreenkomstig hanteer word.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.