Drie vinnig vas ná kitsbanke oopgeblaas is

Foto verskaf deur Limpopo SAPD

Drie persone is in hegtenis geneem kort ná twee kitsbanke Woensdagoggend in die Maake-polisiëringsgebied buite Tzaneen in Limpopo oopgeblaas is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het by die Mahlakung-winkelsentrum plaasgevind.

“ʼn Groep van 10 persone het na bewering die perseel betree en een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op ʼn sekuriteitsbeampte gerig. Hulle het sy gesig met ʼn lap bedek. Die verdagtes het hom daarna na die kitsbanke geneem waar hulle twee kitsbanke en kluise oopgeblaas het.”

Die groep het ook ʼn kluis in ʼn selfoonwinkel oopgeblaas. Die verdagtes het ʼn onbekende bedrag kontant gebuit voor hulle van die toneel gevlug het.

“Die polisie is in kennis gestel en die provinsiale spoorspan het by verskeie spanne, insluitend Polokwane lugvleuel, Limpopo-hoofwegpatrolle en die provinsiale ondersoekeenheid aangesluit. Die privaat sekuriteitsmaatskappy Wilkie-honde-eenheid, Hoedspruit-plaaswag en Letaba Security het ook bystand verleen om die verdagtes op te spoor.”

Drie persone, ʼn man en twee vroue, is by ʼn huis in Worcester Village, ʼn paar kilometer van die misdaadtoneel, in hegtenis geneem. Tydens die inhegtenisneming het polisiebeamptes beslag gelê op springstof wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, asook twee wegkomvoertuie (ʼn Mercedes-Benz en ‘n Toyota), klapmusse en handskoene.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die spanne geloof vir hul vinnige reaksie. “Ons loof ook die lede van die gemeenskap vir hul voortgesette ondersteuning om misdaad te bekamp deur goeie en betroubare inligting.”

Die drie verdagtes sal na verwagting binnekort in die Lenyenye-landdroshof verskyn.

Enigiemand met inligting oor die oorblywende verdagtes word versoek om lt.kol. Richard Boshomane te kontak by 079 894 5501.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Flip ·

Waar kry hulle die springstof? Dis tyd dat die goed terug gevolg word na waar dit “verlore” geraak het en sluit die hoof van die myn/besigheid wat veronderstel is om dit op te pas toe. As n wapenhandelaar of individu n vuurwapen of ammunusie “verloor”, het hul groot moeilikheid. Dis net asof springstof maklik bekombaar is en niemand gee om nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.