Dringende optrede nodig om staatskapingsake te vervolg

Adv. Glynnis Breytenbach. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Woensdag aan die komitee vir veiligheid en justisie onthul dat ʼn gebrek aan fasiliteite en regskragte die vermoë van die ondersoekdirektoraat (OD) belemmer om ingewikkelde ondersoeke na finansiële misdade wat in die Zondo-kommissieverslag uiteengesit is, uit te voer.

Adv. Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, sê daar is ʼn dringende behoefte dat die OD permanent gemaak word om sy toekomstige stabiliteit te verseker. “Wetgewing wat die OD groter magte sal verleen, bly uitstaande. Die versuim van die regering om hierdie ondersteuning aan die OD te bied, plaas nou die vermoë van die NVG en die OD om staatskapingsake suksesvol te vervolg, ernstig in gevaar.”

Sy meen wysigings aan wetgewing word dringend benodig om dit vir die OD moontlik te maak om kriminele ondersoekers aan te stel, aangesien die OD tans afhanklik is van ‘n beperkte getal gesekondeerde personeel. “Hierdie wysigings sal ook sekuriteit van aanstelling vir sy beamptes bied, wat hulle sal help om langtermyn-ondersoeke uit te voer en die OD aantrekliker te maak vir die werwing van gespesialiseerde vaardighede. Sommige van hierdie dringend benodigde vaardighede sluit forensiese ondersoekers, data-analiste en kuberforensiese deskundiges in.”

President Cyril Ramaphosa het in Oktober verlede jaar aangekondig dat die OD ʼn permanente entiteit binne die NVG sal word.

“Die huidige tydelike status van die OD blyk nou ʼn betekenisvolle swak punt in die land se stryd teen hoëvlak-korrupsie te wees. Hierdie swakheid in permanensie en vaardighede is ten volle uitgebeeld in die versuim om die Guptas suksesvol uit te lewer en die algehele ineenstorting van die Nulane-saak.”

Die DA dring daarop aan dat die nasionale regering die wetgewing vinnig sal verwerk wat die OD onafhanklikheid en bykomende ondersoekende magte sal bied.

“Dit sal die OD en sy vermoëns om ingewikkelde korrupsie-ondersoeke uit te voer, versterk. Sonder hierdie optrede sal aanspreeklikheid ontwykend bly. As hierdie wetgewing nie dringend hanteer word nie, moet die onbillike gevolgtrekking getrek word dat die regering die politieke wil ontbreek om korrupsie doeltreffend of in sy geheel te takel, en dat hy voete sleep om sy eie belange te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Prof ·

Dis maar net deel van die plan om die krimenele en kaders te baskerm. Justice delayed is Justice denied.

Yolandie ·

Glynis Breytenbach jy is ‘n yster vrou. Dankie vir jou en dat jy die Ministers en almal betrokke voor stok probeer kry. Jy het my respek hoor. Ons het meer mense soos jy nodig in ons regering.

Althes ·

Die ANC regering moet stop om flou verskonings te maak en doen van hul wat SA burgers verwag. Ek dink die harde realiteit is dat daar soveel belastinggeld geplunder, verkwis is en onbevoeg hanteer was, dat daar eenvoudig nie finansiële bronne is om kundiges aan te stel nie?
Of die poltieke wil.
Gaan staatskaping nie-vervolging nog jare vorentoe saam met ons gesleep word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.