Dronkbestuurder het glo Zuma se motor getref

Oudpresident Jacob Zuma (10 Maart 2024) (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

ʼn 51-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur.

“Die man se motor het teen die voormalige president Jacob Zuma se amptelike gepantserde staatsvoertuig gebots,” sê brig. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie.

Zuma was ten tyde van die ongeluk in die voertuig saam met sy lyfwagte.

“Niemand, insluitend die lede van die presidensiële beskermingsdiens, is beseer nie. Die voormalige president is na sy woning geneem.”

Mathe sê die ongeluk het Donderdag omstreeks 18:40 op die R66 plaasgevind.

“Die man is in aanhouding en sal na verwagting Dinsdag in die Eshowe-landdroshof verskyn.”

Die ongeluk het plaasgevind net ure ná verkiesingsbeamptes bepaal het dat die 81-jarige Zuma se naam van die MK se kandidatelys verwyder moet word.

Maroela Media het vroeër berig die MK-party voer aan gemene spel was betrokke in die padongeluk Donderdagaand waarby voormalige president Jacob Zuma en sy lyfwagte betrokke was. Hulle het van Nkandla na Eshowe in KwaZulu-Natal gereis as deel van die party se verkiesingsveldtog.

Samesweringsteorieë

MK se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het ook aangevoer die ongeluk was nie net ʼn toeval nie.

“Die polisieminister wat verantwoordelik is vir die voormalige president se beskermingseenheid, het al vir agt jaar lank nie sy voertuig opgegradeer nie. Hy is dieselfde persoon wat vroeër uitlatings gemaak het dat Zuma begrawe moet word,” het Ndhlela aan AFP gesê.

Hy voer aan Zuma se voertuig is spesifiek geteiken.

Op ʼn vraag oor hoe dit met Zuma gaan, het Ndhlela aan AFP gesê: “Hy is soos altyd in ʼn goeie luim. Hy het vanoggend gelag oor die ongeluk. Maar dit beteken nie dat hy dit ligtelik opneem of nie bewus is van wat gebeur nie.

“Mnr. Zuma is vandag in die kerk om te bid dat die duiwel nie die MK binnekom nie,” het hy bygevoeg, met verwysing na die ANC.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.