Droogte: Boere in Gamtoosvallei op hul knieë

(Foto: Gamtoos-besproeiingsraad)

Boere in die Gamtoosvallei wat staatmaak op water uit die Kouga-dam in die Oos-Kaap, is op hul knieë. Die dam is tans slegs 8,26% vol en tensy daar vinnig heelwat water invloei, lyk hulle vooruitsigte al hoe slegter. Boonop verloor die Nelson Mandelabaai-metro nagenoeg 45% van die water wat hy uit damme onttrek.

Noëlie le Roux, ʼn boer van die Hankey-omgewing, sê die situasie is op breekpunt. Le Roux boer met sitrus en groente en het ook ʼn verwerkingsaanleg op sy plaas. Hy het weens die waterprobleme reeds opgehou plant in die Gamtoosvallei en huur nou sowat 20 ha grond naby Uitenhage waar daar minstens effens meer water beskikbaar is.

“Ons produksie hier kan binne twee maande eindig. As dit nie reën voor dan nie, gaan dit ʼn katastrofiese uitwerking hê, ook op werkers,” het Le Roux gesê.

“Die watersituasie is kritiek. Ons het reeds met werkers vergader, maar daar is niks wat ons hieraan kan doen nie. Die helfte van die groenteafdeling se mense gaan dalk afgelê moet word.

“Jy kan nie water gee as daar nie is nie. Ons hoop maar dit reën, dis al wat ons kan red.”

Le Roux sê hy het ook kontrakte om vars produkte aan supermarkte te lewer, maar moet nou by ander produsente groente aankoop net om sy ooreenkomste met winkels te eerbiedig. Dis egter nie ʼn ekonomies volhoubare opsie nie.

Die bietjie water wat hy wél nog vir sy boerdery kry, word vir die permanente gewasse gebruik.

“In dié stadium is uitvoere ʼn redding; die sitrus is ons lewenslyn,” sê hy.

Manus Meyer is ʼn melkboer van die omgewing en sê benewens die feit dat hy moontlik uiteindelik sy kudde gaan moet verminder, sal hy dalk ook werkers moet aflê.

Meyer het nagenoeg 2 400 beeste waarvan hy naastenby 1 650 melk.

“As die dam leeg is en ons kry niks water nie, gaan ek moet voer koop. Teen die huidige melkprys betaal dit nie as jy net van aangekoopte weiding produseer nie. As jy die lusern moet koop, maak jy nie wins nie.

“Ons moet hoop en bid en glo dat dit weer gaan reën. Jy kan nie jou drakrag aanpas met ʼn leë dam nie.”

Meyer sê daar is ook nie boorgeleenthede nie. “Ons het al probeer, maar dit werk glad nie.”

Meyer sê op die lang duur gaan dit moontlik ʼn einde aan die boerdery beteken, of daar sal heeltemal na ʼn ander produk oorgeskakel moet word.

“Ek bly glo dit gaan reën. Wat anders kan ʼn mens doen?”

(Foto: Gamtoos-besproeiingsraad)

Rienette Colesky is die uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad en sê die dam voorsien water aan drie hoofgebruikers: die landboubedryf, die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit en die Kouga-munisipaliteit.

Landbougebruikers kry normaalweg 71,3% van toegekende water uit die dam, die Nelson Mandelabaai-metro is geregtig op 27,7% en die Kouga-munisipaliteit op 1%.

Colesky sê dit is ʼn uitdaging om die behoefte van landbou- en huishoudelike gebruikers te balanseer. “Die gebied is geweldig droog. Ons wag maar vir goeie reën.

“Almal was ʼn bietjie ontnugter oor hoe die dam die laaste jaar gereageer het; die verwagting was dat dit beter sou herstel. Ons weet in dié stadium nie waarheen ons beweeg nie.”

Colesky sê die departement van waterwese sal teen die einde van die maand weer ʼn bepaling doen van hoeveel water vir gebruikers beskikbaar is, maar die verwagting is dat dit nie veel gaan wees nie.

Die dam was dieselfde tyd twee jaar gelede ook net 8% vol. Dit het daarna lekker in die Langkloof gereën en die damvlak het tot 55% gestyg, maar sedertdien was daar nog nie weer genoeg reën om hond haaraf te maak nie. Colesky sê die dam het swaar reënval in sy opvangsgebied nodig om beduidend te styg. In só ʼn geval loop die dam binne enkele dae vol.

“Die uitwerking op landbougebruikers is geweldig en daar is werk- en produksieverliese. Die situasie hier is niemand se skuld nie – ons het die water op die beste manier moontlik bestuur.”

Colesky sê die dam was in 2015 laas heeltemal vol.

Die Kouga-dam in die Oos-Kaap. Die foto is in 2019 geneem. (Foto: Gamtoos-besproeiingsraad)

Retief Odendaal, ʼn DA-lid van die Oos-Kaapse provinsiale wetgewer, beskryf die situasie as ʼn ramp.

En hy sê ook hulle bid vir reën.

Odendaal sê egter terwyl inwoners gevra word om water spaarsaam te gebruik, verloor die Nelson Mandelabaai-metro nagenoeg 45% van die water wat hy uit damme onttrek. “Dit is ʼn groot probleem. Jy vra gebruikers om spaarsaam te werk, maar die munisipaliteit is verantwoordelik vir die grootste waterverliese.”

Odendaal sê hy het die premier al verskeie kere gevra om in te gryp en saam met die departement van water te werk om die ramp af te weer, maar daar was tot dusver nie enige terugvoer nie.

“Die verwagting is dat die nuwe watertoewysing vir landbougebruik in die nuwe boekjaar, wat op 1 Julie begin, gesny kan word. Só ʼn toewysing is nutteloos as die dam droog is, maar as water wel beskikbaar is, gaan ʼn beduidende vermindering beteken dat boere nie aan die basiese vereistes om hulle bestaande boorde te onderhou, sal kan voldoen nie.

Odendaal sê die DA het die premier reeds gevra dat die Nelson Mandelabaai-metro ophou om water uit die Kouga-dam te onttrek – selfs al is hy nog binne sy kwota – omdat hy ander beskikbare waterbronne het.

“Boere in die Gamtoosvallei en die inwoners van die Kouga-munisipaliteit het nie dié luukse nie.”

Odendaal sê as die metro oor die volgende paar weke nie water uit die dam onttrek nie, dit ʼn broodnodige reddingsboei vir ander gebruikers kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Ons land kan slegs voorsien in 20 miljoen mense se daglikse behoeftes maar ons is ongeveer 58 miljoen mense dit sal nie so kan aangaan nie

Willem ·

Ons bid elke aand vir ons boere in die droogte asook vir hul veiligheid

Pampoenboer ·

Wanneer gaan die regering besef hy sal moet begin damme bou en nie vlak damme nie maar diepes sodat verdamping ook beperk kan word. Is daar al ooit sedert 1994 n dam gebou ek twyfel

Alexander ·

Al wat ons nou kan doen is om op ons knieë te gaan. Al die damvlakke in die westelike gedeelte van die Oos Kaap is skokkend laag. Ons moet aanhou glo dat ons Hemelse Vader uitkoms in hierdie gebied sal bied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.