Droogte tot nasionale ramp verklaar

Talle boere benodig steeds hulp om op hul voete te bly. (Argieffoto; Droogtehulp SA NPC)

Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, het Dinsdag die droogte in sekere gebiede van Suid-Afrika tot nasionale ramp verklaar.

Die afkondiging is in die Staatskoerant gedoen.

Gebiede in die land wat vir die afgelope paar jare onder erge droogte gebuk gaan, is onder meer die suidelike en westelike gebiede van die Noord-Kaap, dele van die Karoo, die Klein-Karoo en die Nelson Mandela- en Sarah Baartman- munisipale gebiede in die Oos-Kaap.

Volgens Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap, ervaar van hierdie gebiede die afgelope ses tot nege jaar reeds erge droogte.

“Boere kry finansieel swaar weens die droogte en moet op donasies staatmaak om hul boerderye aan die gang te hou.

“Droogtehulp is van staatsdepartemente ontvang, maar daar is dringend finansiële steun nodig om plaaslike ekonomieë te red en die oorblywende kernkuddes se oorlewing te verseker. Hulp van die private sektor, donateurs en ander instansies help geweldig baie om boere en werkers op plase te hou, maar is nie genoeg nie,” sê Symington.

Andrea Campher, risiko- en rampbestuurder by Agri SA, sê boonop die burokratiese rompslomp en onvoldoende begroting vir droogtehulp deur die regering het boere en plaaswerkers in die droogtegeteisterde gebiede van ’n lewensbestaan ontneem.

Symington sê om die droogte tot nasionale ramp te verklaar, is ʼn stap in die regte rigting om die nood in hierdie droogtegeteisterde gebiede te erken.

“Ons hoop dat daar voldoende optrede en hulp sal wees om die landbousektor en plaaslike ekonomieë te ondersteun om die droogte se uitwerking die hoof te bied.”

Retief Odendaal, DA-LP in die Oos-Kaap, sê die Oos-Kaapse premier moet noudat die voortslepende droogte tot ’n nasionale ramp verklaar is, optree om nasionale befondsing vir droogtegeteisterde boere en munisipaliteite te verseker.

“Dit is ’n oorwinning vir boere en inwoners wat daarvoor baklei het om die provinsie tot ’n droogterampgebied te laat verklaar,” sê Odendaal.

Odendaal sê daar is gebiede in die Oos-Kaap waar die veld só verdroog het dat dit bykans onmoontlik is om met boerderyaktiwiteite daar voort te gaan.

“Talle boere ervaar ook ernstige watertekorte omdat boorgate en fonteine nou ook begin opdroog het weens ’n uitgeputte grondwatertafel.

“In sommige gevalle het boere al hul spaargeld uitgeput, uittree-annuïteite laat uitbetaal, of ʼn verband op hul plaas uitgeneem in ’n poging om toegang te kry tot broodnodige finansiering om hul boerderye aan die gang te hou. Ongelukkig word baie boere deur finansiële ondergang in die gesig gestaar en hulle sal ongetwyfeld nie met hul boerdery kan voortgaan nie.”

Symington sê bestaande strukture moet nou versterk word en gebeurlikheidsplanne geaktiveer word om aandag aan die ramp te gee.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en enige ander staatsorgane moet die nasionale rampbestuursentrum ondersteun met rapportering en verslaggewing oor die droogtetoestande,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Einde laaste goeie nuus!!!Gaan hulp nou realiseer? Tyd sal leer. Ons harte bloeie vir diegene blootgestel aan droogte!!

SomeOne ·

sterkte aan almal wat sukkel, spesifiek die mense wat jare laas reën gesien het
nou sal die volgende verskoning seker gemaak word:, die onluste, covid, geld wat vir ander twak betaal is, is nie beskikbaar nie,
sewe honderd verskonings sal voorgelê word

DIABLO ·

UITEINDELIK!!!!!!!!!!! Maar hierdie Boerehart pyn vir my mense daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.