Druk verkeer op paaie vir Desember verwag

(Argieffoto)

Die N3-tolkonsessie (N3TC) waarsku padgebruikers dat hulle volgende week ʼn toename in verkeer op paaie kan verwag en dat hulle hul reise met ekstra omsigtigheid moet beplan. Meer Suid-Afrikaners wil boonop vanjaar met vakansie gaan omdat die meeste verlede jaar weens die Covid-19-afsonderingsregulasies met Jan Tuisbly se karretjie moes ry.

Dít terwyl meer ongelukke as gewoonlik dié jaar op die N3-tolroete aangemeld is.

Swaar verkeer word veral vanaf Woensdag tot ná Nuwejaar op die N3 verwag.

Spitsverkeertye op die N3-roete word Woensdag tussen 15:00 en 18:00, Donderdag tussen 06:00 en 12:00, en Vrydag tussen 12:00 en 18:00 verwag. Druk verkeer word ook volgende Woensdag (22 Desember) tussen 12:00 en 18:00, Donderdag (23 Desember) tussen 09:00 en 18:00 en Vrydag (24 Desember) tussen 09:00 en 15:00 verwag.

Hierdie verkeer kan veral in ʼn suidelike rigting voorkom.

Van Sondag (2 Januarie) tot Maandag (3 Januarie) kan motoriste spitsverkeer onderskeidelik tussen 09:00 en 18:00 en 12:00 en 15:00 in ʼn suidelike rigting teëkom.

Tydens spitstye kan verkeer met tussen 2 000 en 3 500 voertuie per uur toeneem.

Volgens Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van N3TC, kan verkeersopeenhopings verwag word wanneer die verkeersvloei erg toeneem. Sy raai motoriste aan om, indien enigsins moontlik, buite spitstye te reis.

Huidige padwerk op die N3-tolroete sal op 14 Desember gestaak word, waarna alle bane vir verkeer oopgestel sal wees. Slegs noodsaaklike instandhoudingswerk sal gedurende die vakansietydperk verrig word.

Miles le Roux, vervoeringenieur van N3TC, sê nood- en wetstoepassingsdienste sal vir die hele Desember op gereedheidsgrondslag geplaas word.

“Reisigers moet sigbare polisiëring en streng wetstoepassing op die pad verwag. Die oortreding van verkeersreëls sal nie geduld word nie,” sê Le Roux.

“Verskeie verkeerskontrolepunte sal langs die N3-tolroete geleë wees waar dwelm- en alkoholondersoeke uitgevoer sal word, benewens bestuurderslisensie-kontroles en voertuigpadwaardigheidstoetse.”

Toename in ongelukke

Volgens Le Roux was daar ʼn toename in die aantal ongelukke op die N3-tolroete wat aan menslike foute of nalatige bestuur toegeskryf kan word.

Altesaam 71% van motorongelukke en 80% van vragmotorongelukke wat tussen Januarie en Oktober vanjaar op die N3-tolroete aangemeld is, is weens nalatige bestuur.

Le Roux sê meganiese foute was die naasgrootste bydraende faktor tot ongelukke in dieselfde tydperk op die tolroete. In 13% van alle ongelukke was motors betrokke wat meganiese foute beleef het. In 17% van ongelukke was onklaar vragmotors betrokke.

“Voertuie se bande bars of ondervind meganiese- of remfoute omdat die voertuie nie getrou onderhou of versien word nie,” sê Le Roux.

“Wanneer ongelukke weens menslike foute plaasvind, is dit omdat bestuurders meestal swak besluite neem, oordeelsfoute begaan, versuim om potensiële bedreigings te identifiseer, nie verkeersreëls nakom nie, onoplettend, aandagafleibaar of moeg is of swak bestuursvaardighede toon.”

Le Roux sê in altesaam 45% van alle ongelukke op die tolroete was daar net een voertuig in die ongeluk betrokke. “Die bestuurders het in die meerderheid van hierdie ongelukke beheer oor hul voertuie verloor.”

Volgens Le Roux het meer as 80% van alle ongelukke op die N3-tolroete in gunstige weersomstandighede plaasgevind, met slegs 11,5% van ongelukke wat in gure weer aangemeld is. ʼn Skamele 6,3% van die ongelukke word toegeskryf aan swak sigbaarheid weens mistige of bewolkte toestande.

“Die ongelukke wat in die aand plaasgevind het, het ernstiger gevolge gehad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Ek hoor nou die dag van mense wat skuld aangaan om met vakansie te kan gaan. Kan nie glo mense doen dit nie en jy begin die jaar sommer op ‘n slegte noot. Met petrolpryse wat die hoogte in skiet en die stand van paaie, bly ek veilig by my huis. Ons lewe in onseker tye en mens is van niks meer verseker nie.

Pieter ·

Die mense leen geld vir vakanasies al van die 80’s af – die nie iets niit nie. Baie mense redeneer so wat ek by braais gehoor het : “As ek vakansie wil hou, wil ek dit ordentlik doen en herinnering daaran moet uiters goed wees”. So ja- as jy geld leen om te gaan ski in Europa sal dit definitief daardie herhinneringe kweek. Maar die jaar moet mens geld leen om die petrol te kan bekostoig. My trip van Pretoria na PE toe en terug gaan my oor die R5500 kos net aan diesel.

Swerwer ·

Stem saam Misky, dieselfde hier. Jy kan dit tuis vir jouself ‘n heerlike kommerlose vakansie beplan.

Shakespeare ·

Druk verkeer ??? Doen dit die Afrika manier…DRUK TERUG.

Pietertjie ·

Dink net hoe fluks gaan daar weer tolgeld gehef word!!!

Erik ·

Klomp jaloersies hier…

Min dinge wat soveel beteken soos Vitamin ‘see’. Vlak 4 miskien ja, maar die grense en strande sal oopbly die keer.

Anoniem ·

Ek twyfel in elk geval of ons van vlak 1 direk na vlak 4 sal oorgaan, aangesien die hospitale nie onder druk is nie. Die bevelsraad sal baie goed moet kan motiveer indien hulle dit wil doen.

Elinette ·

Ek’s nie jaloers nie. Ek sit en ‘smile’ maar so op die een kant en dink aan Januarie wat voorlê, wanneer diegene wat so lekker ge “splash & spend” het in Desember, steen en been kla oor Janneworry wat dan TWEE MAANDE lank is!!!

Erik ·

Elinette, ek dink ook dis belaglik as mense skuld maak om met vakansie te gaan. Daar is wel heelwat mense wat nog ‘n vakansie kan bekostig sonder om skuld te maak.

Hennie ·

Ek spaar al van die begin van 2020 af, so ja ek gaan my vakansie en vitamien “see” ten volle geniet!

Elinette ·

Ek bly maar van die nasionale paaie af. Ek het laasjaar met die hernuwing van my bestuurslisensie gedop oor my swak sig en het nie geld vir ‘n oogkundige en bril vir bestuur nie – nou ry ek met ‘n tydelike “liksens” wat al verval het …

Truman Burbank ·

Met die huidige brandstof pryse, moes meeste seker n tweede verband uitneem om die rit te kan bekostig

Wielspore ·

Ons het gery vanaf Nelspruit via Bloemfontein tot in Port Elizabeth, padgebruikers het hulle goed gedra, heerlik gery. Daar was een ongeluk vir die hele roete, HMV het sy vrag verloor en omgeslaan. Lekker ry.

Mallie ·

Geniet die somer vakansie. Die wat kan, ek gun dit vir julle. Almal verdien n welverdiende see vakansie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.