Duisende aan boord van skip gehou uit vrees vir virus

Die Costa Smeralda-skip het in die hawe van Civitavecchia, noord van Rome (Foto: Andrew Medichini, AP)

Sowat 6 000 passasiers is Donderdag aan boord van ’n passasierskip aan die Italiaanse kus gehou totdat twee Chinese passasiers getoets kon word vir die nuwe tipe koronavirus nadat hulle simptome getoon het.

Die uitslae van voorlopige toetse was egter negatief.

BBC berig die Costa Smeralda-skip het in die hawe van Civitavecchia, noord van Rome, vasgemeer nadat ’n 54-jarige vrou koors aan boord ontwikkel het. Die vrou is van Macau in China.

Al Jazeera berig drie dokters en ’n verpleegster is ontbied. Die vrou en haar man is in isolasie geplaas terwyl hulle vir die dodelike virus getoets word wat reeds 170 lewens geëis het. Die paartjie het verlede week vanuit Hongkong gevlieg om die bootrit mee te maak.

Die Costa Smeralda het vanuit Savona in die noorde van Italië vertrek en eers in Marseille, Barcelona en Palma de Mallorca aangedoen voordat die skip Civitavecchia bereik het.

Sowat 7 711 gevalle van dié virus is reeds aangemeld, met die eerste geval wat nou ook in die Filippyne aangemeld is.

Die virus is reeds in 16 ander lande aangemeld waaronder Japan, Taiwan, Duitsland, Amerika, Kanada en Viëtnam.

‘n Pasiënt word by Zhongnan-hospitaal in China behandel (24 Januarie 2020) (Foto: Xiong Qi/Xinhua via AP)

Die departement van gesondheid en die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het vanmiddag op Twitter bevestig dat geen gevalle in Suid-Afrika aangemeld is nie.

Die Nios het wel gesê dit kan sowat 24 uur duur om getoets te word vir die gevreesde koronavirus.

“Ons kan wel ’n groot aantal monsters per dag hanteer en verwerk indien die behoefte ontstaan,” het die instituut in ’n kort verklaring gesê.

Die Automobiel Assosiasie (AA) het intussen in ’n verklaring gesê Suid-Afrikaners wat oorsee reis en hul reis eers by internasionale lughawens onderbreek of wag vir verbindingsvlugte, loop ’n risiko en moet dus die nodige voorsorgmaatreëls tref.

Die AA moedig Suid-Afrikaners aan om enige simptome soortgelyk aan griep aan te meld. Simptome sluit koors en asemhalingsprobleme in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Knorknaap ·

Ek nie aan ‘n veel beter plek dink om in kwarentyn gehou te word nie.

wagnbietjie ·

Ja-nee, kan maar langer wees as die voorgeskrewe 72 uur ook…glo ook nie die ander 5998 passasiers sal omgee nie…!

Danie ·

Dit is nou al die soveelste maal dat China daarvoor verantwoordelik is dat dodelike siektes in hulle land ontstaan en dan wêreldwyd versprei. Wat gaan aan in China? Kan hulle nie sorg dat hulle mense gesond bly nie? Of is dit hoe kommunisme werk? Maak kommunisme mense dood op enige moontlike manier?

Leon ·

Eintlik snaaks dat die virus so lank aanhou, want goed van China hou mos maar nie eintlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.