Duisende aansoeke vir studentefinansiering reeds ontvang

(Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash.com)

Meer as 140 000 aansoeke is reeds vir die Nasionale Finansieringshulpskema vir Studente (NFSAS) ingedien sedert die openingsdatum op 1 September.

Meer as 4 000 aansoeke word gemiddeld per dag ingedien en in sogenaamde spitsweke word tot 6 000 aansoeke per dag ontvang, het die instelling gesê.

NFSAS is die regering se studentebeurs- en leningskema.

Die skema het amptelik geopen vir gr. 9- tot gr. 12-leerders en diegene wat reeds skool verlaat het, wat hul studies by enige beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET-kolleges) of openbare universiteit in Suid-Afrika in die 2020-akademiese jaar wil voortsit.

Voornemende studente kan tot 30 November aansoeke vir finansiering indien.

Die skema is gereeld in omstredenheid gedompel.

Maroela Media het voorheen berig hoe behoeftige studente met allerlei slenters vorendag kom om geld wat hulle deur NFSAS bekom, vir ander doeleindes as byvoorbeeld die aankoop van boeke aan te wend.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het in die parlement gesê boekkoepons is vervang met ʼn kontanttoewysing van R5 000 per student per jaar, nadat studente die koepons onder meer vervals het, of aangewend het as betaalmiddel vir ander dienste. In nóg ʼn voorval het die 29-jarige student, Sibongile Mani, in Augustus weer in die hof in Oos-Londen verskyn, nadat NFSAS twee jaar gelede verkeerdelik R14 miljoen in haar bankrekening inbetaal het. Sy het R810 000 daarvan bestee – glo op fynproewerskos, duur alkohol, klere, vliegkaartjies en partytjies op kampus – voordat die fout reggestel is.

Studente kla ook gereeld dat hulle nooit die subsidies vir kos, verblyf en boekegeld van NSFAS ontvang nie, al is hul beurse goedgekeur. Dit veroorsaak jaarliks grootskaalse betogings en oproer by universiteite, gewoonlik voor ʼn groot eksamen.

Nzimande het vroeër vandeesmaand aangekondig dat ʼn ministeriële taakspan aangestel gaan word om te verseker dat die skema, wat deurlopend onder groot druk is, op die lang termyn meer doeltreffend funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Essie ·

Dit was 1 van die domste dinge om te geld te spandeer wat verkeerdelik aan jou uitbetaal is.

Bekommerde ·

Mens hoop net dat die wat die beurse kry werklik wil studeer – dat hulle kan studeer met die kennis wat hulle het en dat hulle, hulle studies sal voltooi.
Verder moet daar ‘n fisiese oudit wees om hierdie studente te monitor – hulle moet ook gehelp word met emosionele ondersteuning as die lewe swaar gaan met die klomp studie werk en probleme met medestudente ens.
Ouer mense kan ingespan word met laasgenoemde.

Judge Dredd ·

Kwantiteit is nie kwaliteit.
Free education gaan dieselfde skade aanrig met tersiere onderrig as wat alreeds op skool vlak plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.