Duisende doen reeds aansoek by Wes-Kaapse skole

(Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het reeds duisende aansoeke om plek in skole vir volgende jaar ontvang.

“Ons het ongelukkig ʼn aantal tegniese probleme ervaar sedert die aansoekproses begin het,” sê Bronagh Hammond, departementele woordvoerder. Nietemin het meer as 8 400 aansoekers sedert gister (Maandag) op die stelsel geregistreer. Meer as 3 600 het die aansoekproses voltooi.

Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat die Wes-Kaap van ʼn aanlyn stelsel gebruik maak om aansoeke aan skole te administreer. Hammond het ouers gemaan om kalm te bly indien die webwerf hulle “uitskop”, aangesien hulle nog 29 dae het om vir hul kinders aansoek te doen. “Ons wil nie graag hê ouers moet tot op die laaste nippertjie wag nie, al is daar nog baie tyd om aansoek te doen.”

Ouers wat sukkel om aanlyn aansoek te doen, kan ook inskrywingsvorms by die skool afhaal. “Leerders wat eerste aansoek doen, word ook nie eerste geplaas nie. Skole sal op 17 Maart kandidate uitsoek op grond van aansoeke wat teen daardie datum ontvang is,” sê Hammond.

Die Gautengse departement van onderwys maak ook gebruik van ʼn aanlyn stelsel om leerders hier in skole te plaas. Albei provinsies ontvang jaarliks baie meer aansoeke as waarvoor hulle plek het in skole en teen die begin van Februarie het duisende leerders nog nie plek in skole in dié provinsies gehad nie.

Ouers word aangemoedig om aansoek te doen by https://admissions.westerncape.gov.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leeuwyfie ·

Ja die aanlyn stelsel was ‘n absolute mislukking in Gauteng, maar tog sal hulle dit nou instel om in elke provinsie toegepas te word. Oral waar die regering “ingryp”, kan ons ‘n totale ondergang verwag.

Jsgroen ·

Wat van ouers wie nie toegang tot die internet het? Glo dit of nie, daar is nog steeds mense wie geen rekenaars of internet het.

Shady ·

Lees die berig. Daar is vorms wat by die skool ingevul kan word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.