Duisende hektaar in Limpopo deur vlamme verswelg

(Foto: Steve Geldenhuys)

WAARSKUWING: Die foto’s kan sensitiewe kykers ontstel.

Boere in die Steenbokpan-omgewing tussen Lephalale en Thabazimbi in Limpopo vra vir gebede en hulp ná veldbrande tussen 12 000 ha en 15 000 ha weiding vernietig het.

Volgens Deidre Carter, uitvoerende hoof van Agri Limpopo, het altesame tien plase in die slag gebly. Twee huise en ʼn lodge het afgebrand.

Die brand het Sondag omstreeks 12:00 uitgebreek. Volgens inligting het die brand ontstaan ná kragdrade ʼn kortsluiting veroorsaak het. ʼn Vonk het die gras laat vlam vat.

“Met die kurkdroë gras het die vlamme blitsvinnig versprei,” sê Carter.

Boere van die omgewing het tot Maandag omstreeks 04:00 gespook om die vlamme te blus. Die brand het teen Maandagmiddag weer opgevlam, maar is vinnig in bedwang gebring.

“Daar is in elk geval niks meer oor om te brand nie. Die veld is afgebrand.”

Volgens Carter het 27 koeie en 13 kalwers doodgebrand. ʼn Enorme hoeveelheid wild, waaronder kameelperde, elande, sebras, rooihartebeeste, blouwildebeeste en blesbokke, het ook doodgebrand.

“Groot skade is aan infrastruktuur op plase aangemeld. Van die plekke het tot op die grond afgebrand. Boere se voertuie, trekkers en werktuie is ook vernietig.

“Tot dusver weet ons nog glad nie van menslike sterftes nie, maar daar is wel mense wat ligte brandwonde opgedoen het.”

Die emosionele uitwerking van die brand is ook oorweldigend.

(Foto: Assis Pontes/Facebook)

Carter sê brande in dié omgewing is gewoonlik meer beheerbaar en hierdie verwoestende veldbrande is ʼn uitsondering.

“Die veldbrande wat in die omgewing uitbreek, brand gewoonlik vinnig genoeg uit om nie skade van hierdie omvang te veroorsaak nie. Die boere is ook georganiseerd en doen hul voorbrande vir brandvoorkoming.

“Die omgewing het egter in Desember verlede jaar laas reën gehad en die gras is baie droog – wat die ideale omstandighede vir die verspreiding van veldbrande skep. Saam met die droogte speel die hitte en wind ook ʼn rol.”

Boere se nood is groot vir voer vir hul diere. Verskaffers sukkel selfs om voer in die hande te kry. Daar is ook ʼn behoefte aan dringende vervoer om voer by die boere
te laat aflewer.

Besoek Agri Limpopo se Facebookblad vir meer inligting oor hoe om skenkings te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Miskruier ·

Miskien daai een, maar die ander hier om my was aangesteek. Groete uit Limpopo.

Kuver ·

Dis waar, ek bly in Warmbad en ja daar IS brande gestig, ek verstaan in Nylstroom area ook

vuurvliegie ·

As dit die geval is sal Eskom hulle vergoed vir “Alles”. Dit sluit weiding, Vee en ander verliese in

Mariaan ·

En al hierdie leuens word geglo. So ironies al hierdie veldbrande wat boere se landerye afbrand en nerens brande wat aan die staat behoort nie. Word dit ooit ondersoek? Wat steek als hier agter dit ? Niemand bevraagteken dit nie. Nou steek ons maar die boere se eiendom aan die brand dis nie so erg soos plaasmoorde nie. ????????????

Danie ·

Dit is bitter hartseer om te sien wat gebeur. Dit is ook nie net hier in SA nie maar regoor die wereld. Ek het vanoggend n video gesien van n sateliet opvangs van Wild Fires regoor die wereld en SA word tans die ergste getref. Wat moet ons hierin lees, en ja ek hoor mense wat se brandstigting, dwing boere van hul plase. ek is geen profeet maar as jy nie kan sien dat die einde is in sig nie is daar fout. Kom ons kyk gou. Noag bou n ark en dit reen en reen en die aarde vergaan. God gee n teken as belofte en se die aarde sal nooit weer deur water vergaan, maar dat dit wel deur vuur sal vergaan. Nou wat verstaan ons nie. Verdrukkings, Vuur. Mense skree en voertuie ry met baniere “Keer terug na God”. Ons is doof en blind want ons harte is verhard .

Di ·

Brandstigting, niemand kan my oortuig dat AL hierdie plase wat so afbrand toevallig was nie. Min besef hulle dat die meerderheid in die land die ergste geraak gaan word as daar nie meer kos is nie.

Wonder ·

Boere bid oor die algemeen hard vir reën, dit word gehlo dat indien die grond/veld brand dan bid die boer nog harder vir reën en word geglo dis wanneer daar baie reën sal val…

Shakespeare ·

Die hele RSA brand af. So in die kraal van die ANC/EFF en hulle kriminele volgelinge. Wat het ons anders verwag. Dis AFRIKA mense “The lost Continent”

Miskruier ·

Waarom gaan werk Working on Fire in Kanada tydens ons brandseisoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.