Duisende motoriste vas sedert begin van feestyd

Argieffoto bloot ter illustrasie van die verkeerspolisie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Duisende motoriste is sedert 1 Desember, toe die feestyd amptelik afgeskop het, regoor die land vir verskeie padoortredings in hegtenis geneem.

Die jongste statistieke wat deur Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) bekend gemaak is, wys dat altesame 2 241 motoriste al in dié tydperk in hegtenis geneem is. Die oortredings sluit in dronkbestuur, oorskryding van die spoedgrens en bestuur sonder geldige rybewyse.

Uit die hoë getal inhegtenisnemings is 324 van die motoriste vasgetrek vir dronkbestuur.

“ʼn Motoris wat in Midrand, Gauteng, in hegtenis geneem is, het tot dusver die hoogste bloedalkoholvlak vir die feestyd aangeteken,” sê Simon Zwane, woordvoerder van die RTMC.

“ʼn Lesing van 3,99 mg/1 000 ml is aangeteken. Die wettige perk is tans 0,05 g/100 ml.”

Die motoris wat die hoogste spoed aangeteken het, is op 8 Desember op die N1 op pad Bloemfontein toe in hegtenis geneem.

“Die motoris het 191 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery. Die verdagte is op borgtog van R3 500 vrygelaat.”

Zwane sê die kommerwekkende statistieke kom met wetstoepassingsagentskappe regoor die land wat hulself moet staal vir ʼn tweede vlaag van motoriste wat na verskeie bestemmings vir die Kersvakansie reis.

“Wetstoepassingsagentskappe het reeds daarin geslaag om meer as 188 padblokkades uit te voer waar meer as 600 000 voertuie gestop en deursoek is. Meer as 100 000 boetes is uitgereik.”

Tydens die soektogte was dit egter opvallend dat sommige motoriste steeds onpadwaardige voertuie bestuur wat “ander motoriste se lewens in gevaar stel”.

“Sedert die begin van Desember is 4 200 onpadwaardige voertuie geskut.”

Volgens Zwane is wetstoepassingsagentskappe egter gereed vir die volgende groep vakansiegangers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.