Duisende rande betaal, maar gʼn trouvideo

Cindy-Lee en Jaco Grobbelaar op hul troue in Oktober verlede jaar. (Foto: Mighty Fine Weddings)

ʼn Suid-Afrikaanse paartjie is platgeslaan nadat hulle ten duurste vir ʼn trouvideo betaal het, maar die videograaf maande later nog geen video van die bruilof gelewer het nie. Dit boonop nadat hulle al die pad van Kanada gereis het om hul troudag saam met vriende en familie in hul geboorteland te vier.

Cindy-Lee Grobbelaar en haar man, Jaco, het besluit om hier te trou waar talle van hul familielede en vriende steeds woon en veral omdat hulle weens die Covid-19-pandemie lank nie na Suid-Afrika kon reis nie.

“Ons het dit gesien as ʼn lekker geleentheid om weer saam met vriende en familie te kuier,”
sê Cindy-Lee.

Dit het fyn voetwerk gekos om alles uit Kanada gereël te kry.

“Ons wou aanvanklik nie ʼn video doen nie en was meer gefokus op die foto’s. Nadat ons met vriende en familie gesels het, het ons besluit om ʼn videopakket ook te kry. Ons wou graag in die toekoms weer na die video’s kyk … dit eendag vir ons kinders wys.”

Grobbelaar sê hulle het in ʼn Suid-Afrikaanse bruidsgids op duPlooyMedia, wat deur Pierre du Plooy bedryf word, afgekom.

Grobbelaar sê hulle het Du Plooy die gekwoteerde bedrag van net minder as R15 000 voor die troue in Oktober al betaal. Die pakket het onder meer ingesluit ʼn videograaf vir die troudag, regstreekse uitsending daarvan, ʼn bykomende videograaf, hommeltuigvideo’s en die redigeerderskeuse, wat beteken hulle sou hul video binne ʼn maand (pleks van die gewone 90 dae) ontvang.

Hier het sake begin skeefloop. Op hul wittebrood het die Grobbelaars navraag gedoen oor wanneer hulle die kort lokvideo kan verwag. Du Plooy het aangevoer hulle skuld hom nog geld, maar ná ʼn gesprek hieroor het hy onderneem om dit binne ʼn week te lewer, sê Cindy-Lee.

Meer as vyf maande later wag hulle steeds.

Jaco sê talle oproepe en boodskappe na Du Plooy uit Kanada, asook van familielede in Suid-Afrika, was onbeantwoord. “Uiteindelik het ons ʼn prokureur gekontak en duPlooyMedia ingelig dat ons met regstappe teen hom gaan begin,” sê Jaco.

Dit was vroeg in Januarie. Du Plooy het geantwoord dat regstappe onnodig sou wees en die video die volgende week gereed sou wees. “Die volgende week … niks,” sê Jaco.

“Hy het ʼn aanmaningsbrief gekry, wat hy waarskynlik ook net geïgnoreer het.”

Nog ʼn klagte

ʼn Gautengse fotograaf sê hy het ook ʼn stel met Du Plooy afgetrap.

Du Plooy het hom gekontrakteer vir ʼn fotosessie in November, maar nooit die R9 000 daarvoor betaal nie – al het die kliënt duPlooyMedia reeds vir die werk vergoed.

Dit was die eerste keer dat hy met Du Plooy sake gedoen het, sê die fotograaf. “Ongelukkig het ek eers die slegte terugvoer gesien nadat ek met hom te doen gekry het.”

Ten spyte van Du Plooy se belofte dat betaling einde Februarie sal gebeur, is dit steeds nie gedoen nie.

“Hy het my intussen op WhatsApp geblok en antwoord nie enige van my e-posse nie.”

Bewerings ‘ernstig opgeneem’

Cindy-Lee Grobbelaar sê hulle darem nog die foto’s as kosbare herinnering aan hul troudag. (Foto: Mighty Fine Weddings)

In antwoord op Maroela Media se navrae, sê Du Plooy die bewerings teen hom is “sonder meriete en ongegrond” en dat die vals beskuldigings sy goeie naam skade berokken.

“Ek neem hierdie bewerings baie ernstig op en is bereid om regstappe te doen om my maatskappy se reputasie en naam te beskerm,” sê Du Plooy.

Oor die Grobbelaars se video sê hy: “Ek het die volle betaling van die paartjie ontvang om hul troudag regstreeks te stroom. Die redigering van die hoogtepunte-video het bykomende koste beloop, wat hulle geweier het om te betaal. Dit het tot ʼn vertraging gelei.

“Ten spyte van hul onversoenlikheid het ek hulle gekontak om die saak op te los.”

Die Grobbelaars se kwotasie wys egter die stromingsdiens beloop slegs R2 999. Die videopakket beloop R9 999, dan is daar koste verbonde aan ʼn bykomende kameraoperateur en nog ʼn bedrag vir hommeltuigbeeldmateriaal. Die “Editor’s Choice Combo” word as gratis aangedui.

ʼn Vroeëre boodskap van Du Plooy aan die Grobbelaars lui dat hy die “editor’s choice gratis gee” nadat hy die kameraman se “arm gedraai” het. Die R14 397,30 sou dus redigering insluit.

Die Grobbelaars se betalingsbewyse wys ook altesame R14,397,30 is uiteindelik aan duPlooyMedia betaal.

Die Grobbelaars se betalingsbewyse.

Oor die Gautengse fotograaf se uitstaande betaling, sê Du Plooy die man was “moeilik om mee saam te werk” en dat hy “deurlopende eise gestel en dreigemente gemaak het” wat die situasie “uitdagend” gemaak het.

“Nietemin doen ek alles in my vermoë om die saak op te los en ek het volle vertroue dat dit binnekort opgelos gaan wees.”

Boodskappe van die fotograaf aan Du Plooy wys dat hy herhaaldelik navraag doen oor die betaling en dat Du Plooy onderneem om dit teen einde Februarie te doen. Dit is steeds nie betaal nie.

Die Grobbelaars sê hulle oorweeg ʼn misdaadklag en enige ander opsies.

Hulle staan egter nie stil by die slegte ondervinding nie en maak nou gereed vir hul eersteling, ʼn seuntjie, se opwagting in September.

“Ons is nou volstoom besig om reg te maak vir die lewe van ma en pa.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.