Duitse toeriste by gastehuis oorrompel, beroof

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Twee Duitse toeriste is Saterdag in die vroeë oggendure beroof toe vier mans by hul kamer by ʼn gastehuis in Addo in die Oos-Kaap ingebreek het.

Drie verdagtes is reeds in hegtenis geneem, maar die polisie spook nog om die vierde man vas te trek.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die paartjie het in die gastehuis gelê en slaap toe hulle om 00:45 wakker gemaak is deur vier mans wat hul by hul kamer probeer inkom.

“Die mans het die kamerdeur oopgedwing en die paartjie met wapens gedreig,” sê sy.

“Die verdagtes het die paartjie se buitelandse valuta, Suid-Afrikaanse rande, paspoorte en ander persoonlike items gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.”

Een van die toeriste, ʼn 67-jarige man, is later behandel nadat hy beserings aan sy kop gedoen het, vermoedelik terwyl hy probeer het om die verdagtes te keer om die kamer binne te kom.

Die polisie het ʼn grootskaalse soektog na die mans van stapel gestuur en om 11:30 dieselfde dag daarin geslaag om een van die verdagte aan te keer. Die 27-jarige verdagte is betrap terwyl hy probeer het om van die buitelandse valuta vir rande te ruil.

Later die dag is nog twee mans, onderskeidelik 29 en 31 jaar oud, ook in hegtenis geneem.

Meeste van die paartjie se gesteelde goedere is in die proses teruggevind.

Die polisie is steeds op soek na een verdagte, maar dié wat in hegtenis geneem is sal Maandag in die Kirkwoord-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklag van die besit van gesteelde goedere en sakeroof.

Genl.maj. Zolani Xawuka, polisiekommissaris van die Sarah Baartman-distrik, het die ondersoekspan se pogings geloof om die gebied veilig te hou.

“Toerisme hou ʼn beduidende voordeel vir ons land in en misdaad kan besoekers afskrik om na sekere bestemmings te reis. Dit kan ook die reputasie van sekere toeristebestemmings negatief beïnvloed en ʼn direkte uitwerking op die plaaslike ekonomie hê,” sê Xawuka.

“Daarom moet ons as wetstoepassers alles in ons vermoë doen om die veiligheid van ons toeriste en burgers te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.