Duitsers wen Cape Epic

Die Duitsers Lukas Baum en Georg Egger van Speed Company Racing. (Foto verskaf deur Cape Epic)

Die Duitsers Lukas Baum en Georg Egger van Speed Company Racing het Sondag geskiedenis gemaak toe hulle die laaste skof van die Cape Epic én die gesogte Cape Epic-beker gewen het.

Dit is die eerste keer dat die wenner van dié bergfietstoer tydens die laaste skof beslis is. Dit is ook Baum en Egger se eerste Epic.

Die twee boesemvriende het die sewende en laaste skof in ʼn tyd van 02:46:34.3 gewen. Dié skof oor 68 km het in Stellenbosch begin en by die Val de Vie-landgoed buite die Paarl geëindig.

Baum en Egger het in dié skof net 2:45 agter die geeltrui-draers van Canyon Northwave MTB, Andreas Seewald van Duitsland en Martin Stošek van Tsjeggo-Slowakye, weggespring.

Die Duitsers was egter by die 16 km-merk reeds 40 sekondes voor Seewald en Stošek en het die res van die roete sonder moeite voltooi.

Die Duitsers Lukas Baum en Georg Egger van Speed Company Racing. (Foto verskaf deur Cape Epic)

Die voormalige wenner Stefan Sahm, wat op die mediaspan se e-kamerafiets agter Speed ​​Company Racing gery het, kon skaars byhou. “Dit is asof hulle hulself na die eindstreep getrek het. Dit is die regte ding om te doen; hulle het niks om te verloor nie,” het Sahm gesê.

Canyon Northwave MTB het eindelik byna ses minute ná Speed Company Racing klaargemaak. Die span is nou algeheel tweede met Suid-Afrika se Matthew Beers en Christopher Blevins van die VSA (Toyota-NinetyOne-Specialized) wat hul derde plek behou.

“Ek is nou so emosioneel,” het Baum ná die laaste skof gesê. “Dit is net ek wat saam met my beste vriend fiets ry en dit het op ʼn goeie manier vrugte afgewerp.”

Volgens Baum het hy en Egger nie tydens die skof geweet dat hulle voorloop nie.

“Ons het geen manier gehad om te weet wat aan die gebeur is nie, ons het nie geweet ons is heeltemal voor nie. Ons het niks geweet nie. Dit was eintlik beter so, want as ons geweet het ons is voor sou ons waarskynlik ’n fout gemaak het.”

Die Duitsers Lukas Baum en Georg Egger van Speed Company Racing. (Foto verskaf deur Cape Epic)

Só lyk die sewende skof se uitslae:

1) Speed Company Racing: 02:46:34.3

2) SCOTT-SRAM MTB-Racing: 02: 48:19

3) Santa Cruz: 02:48:19.8

Algehele wenners

1) Speed Company Racing: 27:44:06.5

2) Canyon Northwave MTB: 27:47:09

3) Toyota-NinetyOne-Specialized : 27:54:45

Inskrywings vir volgende jaar se Cape Epic maak reeds Maandag oop. Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.