Dwaalkoeël mis vrou se kop, dansky matrasvrate

Marie van Eeden saam met een van haar “bedmaats”. (Foto: Verskaf)

ʼn Inwoner van Brakpan dank haar sterre – en vierpotige bedmaats – dat sy nie ernstig beseer is nie toe ʼn dwaalkoeël in die nag deur haar slaapkamer se dak getrek en op haar kopkussing beland het.

Maria van Eeden se kop was nie op die kussing nie omdat haar drie honde soveel plek op die bed opneem en sy dwars oor die bed moes lê. Gevolglik het die koeël haar in die boud en nie haar kop getref nie.

Dié 48-jarige sakevrou van Dalview aan die Oos-Rand het Maandag om 02:12 wakkergeskrik van ʼn steekpyn in haar boud.

“Ek het die lig aangesit en die bloed op die bed gesien. Toe sien ek die geweerpatroon op die kopkussing en die gat in die dak.”

Van Eeden het slegs ʼn skraapmerk en ʼn blou kol opgedoen. “Die gat in die dak is reg oor my kopkussing. Dit is of iemand vir my kop gemik het.”

Sy het dadelik haar verhuurder, wat langs haar woon, gebel en gevra of hy ʼn skoot hoor afgaan het, maar hy het gesê hy het niks gehoor nie. Sy woon in ʼn enkelverdieping huis met ʼn plat dak.

“My honde (twee worshonde en ʼn miniatuur dobermann) is baie op en wakker en sou beslis geblaf het as daar iemand op die dak was. Die skoot moes baie ver afgevuur gewees het.”

Die gat in die plafon waar die koeël getref het. (Foto: Verskaf)

Sy sê die plaaslike veiligheidsmaatskappy het ook geen klagte van ʼn roof of skietery in die omgewing gekry nie.

“Ons buurt is baie stil. Ek het kort voor 02:00 ook nog wakker geword en dit was doodstil buite.”

Sy sê behalwe vir die blou kol is sy ook nou te bang om in haar bed te slaap. “Ek en die honde slaap almal nou maar op die bank in die sitkamer.”

Sy sê sy het nie die voorval by die polisie aangemeld nie. “Wat gaan hulle nou doen?”

Dit is egter nie die eerste keer dat dwaalkoeëls deur die dag slapende Suid-Afrikaners onkant betrap nie. In Januarie verlede jaar is ʼn vrou van Nsikazi in Mpumalanga beseer toe ʼn dwaalkoeël in die middel van die nag deur haar dak getrek en haar in die heup getref het. Lede van die gemeenskap was destyds daarvan oortuig die koeël is afkomstig van mense wat vuurwapens onwettig in die buitelug afvuur.

In Evander, ook in Mpumalanga, is Jacques Booyens byna beseer toe ʼn dwaalkoeël in Desember 2020 deur sy dak getrek het.

Die koeël wat deur die dak getrek het. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

OW ·

Daar kan bepaal word van waar die skoot afgevuur is deur na die hoek te kyk wat die patroon veroorsaak het,toe die dak getref is.Die tegnologie is beskikbaar,en dit sal wys wees om die geval aan te meld by die Polisie.

anna2023 ·

@OW dit sal nie noodwendig “wys wees on die geval by die polisie aan te meld nie” ‘n soortgelyke insident het by ons husi gebeur – niemand was gelukkig in die kamer waar die koeel beland het nie – ek het wek die polisie gebel en toe hulle daar aankom was hulle reaksie bloot “Nou wat wil jy he moet ons doen”.

Johan ·

Slaap volgende keer in die hondehok…..dalk is dit veiliger. Ek skaam my dood as ek in die openbare media verkondig dat ek tussen honde slaap!!!

anna2023 ·

@Johan – Ag asseblief – is dit die eerste keer wat jy hoor dat mense hulle hondekinders op die bed toelaat. Niks om oor skaam te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.